Posted on 05 June 2011

Willowmore tak se dames en vele vriendinne het hulle tydens die tak se Vrouedag behoorlik verlustig in die aantreklike en joviale Herman Linde. Herman, of liewer ‘Boer Nommer 10’, was een van die boere wat vrou gesoek het tydens die eerste Boer soek ‘n Vrou werklikheidsreeks op KYKNET.

 

Die suiwel- en vrugteboer van Kliphoogte, Swellendam, het vertel van sy wedervaringe met die soeke na ‘n vrou, terwyl miljoene televisiekykers die soektog meemaak. Alhoewel dit ‘n ongelooflike ervaring was en hy dit vreeslik geniet het, is hy van mening dat die kans om ‘n suksesvolle verhouding in sulke omstandighede te bou, uiters skraal is.

 

Die veelsydige man is lief vir mense en reis, maar musiek is sy groot passie in die lewe. Hy het die dames met sy musiek bekoor, so tussen die vrou-soek vertellings deur. Boer soek ‘n Vrou is mos maar ‘n soeke na liefde en daarom het hy ‘n hele arsenaal liefdesliedjies saamgebring om die dames van Willowmore se harte te vermurwe.

 

Gepas vir die soeke na liefde, het Louretta Lötter ‘n demonstrasie van lap-, draad- en houtharte gedoen.

 

Optelgoed is glad nie waardeloos nie, of so het Susan Lennox gewys in haar demonstrasie van wat ‘n mens alles met van ‘n fietswiel tot ‘n waskom en optelgoed uit die natuur kan maak.

 

Die genoeglike oggend is afgesluit met ‘n middagete van hoenderkaaskoek.

 

 

 

Herman Linde.

 


Harte gemaak deur Louretta Lötter.

Comments are closed