Posted on 17 June 2011

Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Betty Knipe

 

 

Kinnie Schutte het tydens Gansbaai se Leefstyl vergadering die oorhandiging en onthulling van die nuwe takvaandel waargeneem. Sy was ook die ontwerper en skepper van die unieke kwilt kunswerk. Die vaandel is in opdrag van die lede gedoen, maar tydens die oorhandiging het sy die vergadering verras deur dit aan VLV Gansbaai te skenk. Baie dankie, Kinnie. Ons is trots op ons unieke vaandel wat die hele Gansbaai kultuur en gemeenskap  so treffend uitbeeld en dit gaan spoggerig by Kongres vertoon word.

 

Miempie du Plessis en haar gasvroue was vir die ‘n interessante Leefstyl vergadering verantwoordelik. Die geleentheid is afgeskop met ‘n kooksessie deur Jonathan Engelbrecht van Benguela restaurant. Jonathan is ‘n uitstekende sjef en die dames was verstom deur sy knaphandige voorbereiding van risotto geregte. Hy het binne veertig minute ‘n voorgereg, hoofgereg en nagereg  in die kombuis - met die hele vergadering om hom – voorberei. Na die proesessie kon mens sien dat die toehoorders met nuwe oë na die sjarmante sjef  kyk.  Benguela gaan beslis binnekort ‘n toeloop van VLV-dames beleef.

 

Volgende was Rienie Ludick aan die woord met skitterende wenke oor die gebruik van kombuispapier, Miempie het Pins & Needles se nuwe wol en verskillende breidraad verduidelik en Marie van der Merwe se uitstalling van haar smokwerk bekendgestel.

 

Die voorsitter het al die kongres-organisasie en Gansbaai-tak se verpligtinge aan die vergadering voorgehou.  Vir diegene wat nie vergadering kon bywoon nie:

  • Daar is nog plek vir dagbesoekers by Kongres (16-18 Augustus).
  • Registrasievorms en geld voor 24 Junie by Annatjie Liebenberg.
  • Alle konfyt vir Kongres moet Dinsdag 21 Junie om 15h00 by Annatjie se kantoor wees. Spuit asb. alle dekseltjies wit. Indien u reeds nuwe goue deksels het, kan u dit so laat.
  • Lewer asseblief ook minstens 20 tot 30 klein seeklippies by Annatjie af. Dit is deel van Gansbaai-tak se bydrae.
  • Elke lid is ook verantwoordelik vir ‘n inkopiesak en ‘n paar breiblokke (KANSA).  Mate van breiblokke – 20cmX20cm. Skakel Esme van Dewenter vir meer besonderhede – tel: 0283880776. Die breiblokke en inkopiesak moet voor einde Julie by Annatjie afgelewer word.
  • Gansbaai tak is ook verantwoordelik vir 50 X 200g sakkies beskuit. Die vergadering het eenparig besluit dat elke lid R10 bydra i.p.v. self bak. Die beskuit sal dan eenmalig, gebak, verpak en versend word. Die bydrae moet so gou as moontlik by Annatjie Liebenberg afgelewer word.

 

Volgende VLV-vergadering Dinsdag 2 Augustus om 15h00. SD Fourie sal haar nuwe boek, Die Lanternswaaier, bespreek. Onthou ook die marktafel tydens die vergadering.

 

Uitslae Kompetisies:
Gebottel: Mosterdsuurtjies:  Francette Cillie Malan
Kookkuns: Bobotie – eie resep: Eerste – Christie Groenewald; tweede – Miempie du Plessie; derde- Dina Jooste; vierde – Esme van Dewenter; vyfde  - Francette Cillie Malan.
Mikrogolf: Mieliebrood: Eerste – Dina Jooste; Tweede – Christie Groenewald; Derde – Francette Cillie Malan; vierde – Esme van Dewenter.
Hekelwerk – Sleutelhouer: Miempie du Plessis.
Blomme – tafelruiker van veldblomme: Christie Groenewald.

  

 

 

 

 

Comments are closed