Portefeulje: Opvoeding
Die gasspreker tydens Orania tak se Junie vergadering was die argitek, Christiaan van Zyl. Hy het gesels oor die argitektoniese style in Orania.
Die tipiese Karoo-styl huis het wit mure wat hitte weerkaats, en hoë plafonne wat die kamers koel hou. Die huisies het ook tipies 'n lekker kuierstoep wat Noord front. Wyle Prof Carel Boshoff se Boekehuis is 'n goeie voorbeeld van so 'n boustyl.
Die Wilgehuis by Die Oewer is nie in 'n welbekende styl ontwerp nie. Dit is, desnieteenstaande, gebou in die "oewerpark" styl: 'n houthuis gebou op pale en die daklyn volg die aangrensende geboue se styl.
'n Vergelykende samestelling van geboue wat miskien verskillende argitektoniese elemente het maar wat tog 'n eenvormigheid van styl toon is die geboue in Florance, Italië. Hierdie geboue gee 'n samehangende indruk omdat die klippe waarvan die mure gebou is en die dakteëls 'n sagte pienk kleurskema in die geheel het en harmonies vertoon.
Om die praatjie op 'n ligter luim mee af te sluit het Christiaan die karaktertrekke en eienskappe opgenoem wat hy as argitek op Orania al moes beoefen: ontwerper, beplanner, kunstenaar, ingenieur, vakman, bourekenaar, finansiële adviseur, historikus, filosoof, profeet, opvoeder, prediker, regskundige, mediator, huweliksberader, ekoloog, rekenaardeskundige, gemeenskapswerker, materialis en dromer.
Hy geniet die geleentheid om by Orania se ontwikkeling betrokke te wees en ondersteun ons ideale al beteken dit dat hy die luukses van die stad moes prysgee.