Posted on 13 July 2011

VERENA LOOCH (gebore Raubenheimer)

Sy was vir baie jare 'n gewaardeerde lid van VLV Strand. Na haar aftrede het sy haar in Serenitas, 'n aftreeoord, gevestig. Sy was vir die laaste 20 jaar woonagtig in Serenitas.


'n Uitstaande kenmerk van Verena Looch was haar kennis van musiek, maar ook die wyse waarop sy kore afgerig het en begeleiding gedoen het. In haar woonplek het ALTYD klassieke musiek gespeel en sy het haar kennis en liefde vir musiek met ander gedeel.

 

 

Sy het baie gou, na haar intrek in Serenitas, 'n koor byeen gekry. Hul was bekend vir hul optredes in die Tehuis, maar ook by VLV vergaderings. Die entoesiasme van Verena was aansteeklik by die koorlede. Sy was al 93 jaar oud toe  sy gevra het of haar koor by die VLV kan optree. Sy het met groot selfvertroue die koor begelei en gelei.


'n Kenmerk was haar liefde vir die VLV. Sy het ELKE vergadering bygewoon, selfs toe sy al baie swaar beweeg het. 2010 het sy 'n toekenning gekry omdat sy nooit 'n vergadering deur die jaar gemis het nie. Haar stoel sal voorwaar baie leeg wees, want sy was 'n staatmaker VLV lid.


Verena se gesondheid het geleidelik verswak en die begin van 2011 het sy gebel om verskoning te maak dat sy nie die vergaderings kan bywoon, maar met die volgende opmerking: "As ek beter voel, kom ek weer!!"

25 Januarie het sy 97 jaar oud geword en het die VLV 'n bederfpakkie by haar gaan aflewer. 'n Lang en vol lewe het tot 'n einde gekom toe sy 22 Junie 2011 oorlede is. Ons sal haar mis
 

 


MAGDA VAN DER MERWE (gebore Basson)

'n Flukse lid van VLV Strand is op 81 jaar oorlede nadat sy baie ernstig siek geword het. Magda was vir baie jare lid en bestuurslid in die Paarl.

 

Nadat sy en haar man afgetree het, het hulle in die Strand kom woon waar sy dadelik weer betrokke geraak het by VLV STRAND. Sy was bekend vir pragtige borduurwerk, maar ook vir die smaaklike disse wat sy kon voorberei. Haar naam was altyd op die werklys waar die VLV betrokke was. Twee maande voordat sy oorlede is, het sy tussen die VLV lede gestaan en haar deel gedoen. Haar oorlye laat 'n groot leemte in die tak.

 

Ons eer haar nagedagtenis

Comments are closed