Posted on 29 July 2011
Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Annemarie Taljaard
 
 
 
Op Donderdag, 21 Julie 2011, het Brackenfell tak Paarl-skool gaan besoek, waar die hoof, mnr Johan Basson, ons ontvang het. Ons is op tee getrakteer met teetafel wat keurig en innoverend gedek was.

 

Mnr Basson het ons meer van die geskiedenis van die skool vertel. Die skool was Maandag, 18 Julie, 33 jaar oud en is trots om die verjaarsdag met Madiba te deel. Die gedagte vir die skool het sy ontstaan aan ouers van die Paarl self te danke, wat die nood vir so 'n skool, wat neuraal- en fisies-gestremde leerders kon akkommodeer, besef het.

 
Grond is ook beskikbaar gestel daarvoor, maar die Onderwysdepartement het gevoel dat die skool nader aan die stad geleë moes wees, sodat alle behoeftes makliker ondersteun kon word. Daar is op Brackenfell besluit en het die skool sy naam gekry ter ere van die plek en sy mense wat die droom laat waar word het. Die getal leerders staan tans op 325, waarvan 32 in die koshuis gehuisves word. Die skool is ook reeds 45% getransformeer.

 
Brackenfell tak help die skool en koshuis met naaldwerk, soos hulp met die maak van tafeldoeke, gordyne en ander middels tot versiering van lokale. Die dames is op 'n toer deur die skool geneem om te sien waar hul handwerke benut word.
Ten tye van hierdie besoek is daar ook 'n boom geplant in die Grondslagfase leerders se speelarea. Met bloedige warm somers in Brackenfell het die kinders 'n groot behoefte aan skaduryke bome. Die keuse het dus op 'n Johannesbroodboom geval, wat bladhoudend, vinnig-groeiend en skaduryk is en dus heeltemal aan hierdie behoefte voldoen. As sameroepster van Landbou, het mev. Judith Lubbe dit gereël .

 
Ons is diep geraak deur wat ons kon waarneem en hoor met hierdie besoek. Elkeen het met groot dankbaarheid en omgee by die skool se hekke uitgegaan en moedig ander takke graag aan om self so 'n besoek te reël.
 
 
 
 
 

Comments are closed