Posted on
01 August 2011
Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Petro Spangenberg
Lelani van Straten, saamroeper van Openbare Sake, het besluit dit is hoogtyd dat almal weer moet leer waarna om te kyk voor jy op die pad gaan. Om net petrol in te gooi is nie altyd genoeg nie.
Wimpie Laing en Dan Leach van Leach Toyota op Kuruman het nie geskroom om hulle hande vuil te maak nie. Wimpie het alles onder die enjinkap uitgewys wat probleme kan veroorsaak, en dan hoe om voorkomend op te tree deur olie en watervlakke na te gaan. En moenie van die ekstra paar sykouse vergeet as dit die waaierband is wat die gees gegee het nie! Om ‘n band om te ruil laat hy soos kinderspeletjies lyk. Voor iemand kon sê “Papwiel”, toe is die takie afgehandel. Hy was natuurlik ook gereed met ‘n paar antwoorde op sommige ‘dom’ vrae en het gewys dat jy deur koelkop te bly, enige situasie te bowe kan kom.
Dan Leach het vertel van die nuutste GPS tegnologie en hoe dat mens elke jaar jou toestel moet opgradeer om by te bly. Dit klink my net ons moet ‘n taalkundige aanstel om by te bly met die spel van straatname, en soos wat dorps- en straatname verander, is dit seker ‘n kuns vir die Garmin om by kop te hou!
Om alles af te rond het 3 danseressies van Fancy Footwork, die dansskool van Mev Carin Theunissen, die dames vermaak toe hulle ritmies geklopdans het op “New York, New York” en jou vir ‘n oomblik weggevoer het na die nagklubs in die groot stad van plesier.
Die gebreide blokke vir die KANSA projek vorder ook goed en selfs nielede bel om te hoor of hulle kan brei! Wat ‘n voorreg om handwerk te kan doen – die tydskrifte praat van die wolbom – handgebreide en gehekelde artikels is nou hoogmode en selfs stoele word oorgetrek met gehekelde blokkies.
Daar is niks wat kom by sop om die winterkoue te verdryf nie, en saam met lekker broodjies kon almal na die vergadering bietjie kuier en vrouwees geniet. Viva vrouwees in Augustus!

Die dogtertjies kry 'n encore vir New York, New York, LNR Caylynn Victor, Zoe Lombaard en Jodeen Markram - almal studente van Carin Theunissen se Fancy Footwork.

Mnr Wimpie Laing sit blitsvinnig die spaarwiel op.

Mnr Dan Leach met die GPS wat verdwaal uit jou woordeskat sal haal.