Posted on
07 August 2011
Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Thea Weyers
Die Sirkel Tygerberg het besluit om as projek naaldwerkmateriale in te samel sodat dit gebruik kan word om agtergeblewenes te help om vir hulself te sorg. Omdat die projek weens siekte 'n ander rigting ingeneem het, het die dames van Brackenfell tak voldoen aan 'n versoek van Bracken Natuurreservaat om vloerkussings van 'n gedeelte van die materiaal te maak. Die saaltjie wat vir skool- en ander groepe gebruik word vir opvoeding het net 40 stoele. Kinders moet soms op die koue vloer sit.
Charmaine Pio en ander VLV helpers het ingespring om 40 pragtige kussings te maak. Sommige lede het saam met haar en die voorsitter, Fanny, op Vrydag, 5 Augustus die geskenk oorhandig aan die dankbare personeel van Bracken Natuurreservaat. Daar is toe ook die behoefte raakgesien vir tafeldoeke, en die besluit is terstond gemaak om mooi natuurtemas daarop in te werk vir nog 'n skenking!
Die publiek is welkom om enige tyd gratis in die reservaat te kom stap of te piekniek. Op Saterdag 10 September word die jaarlikse Lenteviering daar gehou, met kos- en kunsstalletjies, kinderkompetisies, vermaak, potjiekoskompetisie, uitstallings ens. Almal welkom. Vir inligting, skakel die kantoor by 021 982 1323.


Die persone saam met Fanny le Roux (voorsitter) en Charmaine is Tshepo Mamabolo, bestuurder van die reservaat, en Alana Hendricks, Intern vir Omgewingsopvoeding.