Uit die pen van Hermien van Zyl. . . .
Ek stap toe op ‘n aand laat
Met ‘n kêrel uit die Vrystaat
Al bestuur hy ‘n ou bakkie,
Sê ek “Kersvader, dankie!”
Want al sy soene is soos suiker
En in sy hande ‘n diamant……
Ek laat sak die stola wat ek besig is om vir die VLV-kompetisie te brei en luister met ‘n glimlag na Laurika se liedjie. Stefaans het ook met ‘n ou bakkie kom vry, en ma het dit nog destyds net so een kyk gegee en gesê “Liefde is blind, sien flinters aan vir lint!”
Die troudatum in die Boland was vasgestel vir die eerste naweek in September en die bakkie was volgelaai toe ons die Woensdag uit Kimberley vertrek. Heel bo-op alles was my ruimste kleretas met die trourok waaraan ek vir weke gewerk het om die kraletjies, pêreltjies en lintjies te borduur. Ook die tiara, die gebreide stola en die ringkussingkie met die bypassende “garter” is versigtig tussen sneespapier daarby ingepak.
Dit was reeds sterk skemer toe ons aankom na die Hexrivierberge, maar met ‘n bakkie waarvan die kappie nie meer kan sluit nie, moes ons aanstoot. Laatnag was ons op die plaas, doodmoeg, maar dankbaar - tot my pa om die bakkie loop en bulder “Die agterste flap is dan oop”! Ek kry onwillekeurig weer hoendervel as ek dink aan daardie verskriklike oomblik toe ek die leë ruimte voor my sien waar die tas was.
Al het ons geweet dis ‘n futiele operasie, is tog die volgende dag besluit dat ons plaasmense sal soek tot op Worcester, Jan se mense tot op De Doorns, Hentie s’n tot op Touwsrivier en Piet s’n sover hulle kan na Laingsburg se kant toe, want daar het ons die laaste gestop. Onder elke brug, agter elke bos, in elke donga en sloot langs die pad het wit en bruin ingebuk en gesoek na die swart tas met die Kleinnooi se trou-“tawwerdjie” in.
Intussen het my praktiese ma al wat ‘n moontlik-passende trourok kan wees, opgespoor. Met ‘n swaar hart het ek aangepas sodat verstellings gemaak kan word as ‘n wonderwerk nie voor Saterdag gebeur nie. Vandag sou Oubaas van Zyl seker sê dit was ‘n katastrofe van “epidermiese proporsies”. Die hele dorp gons oor die verlies en die telefoon lui aanhoudend. Daarom was dit aanvanklik nie vreemd om ook ‘n oproep te kry van ons koshuismoeder op Stellenbosch nie. Tussenin tel een van die tannies op die partylyn ook nog op en praat alles deurmekaar met haar verskonings. Ná ‘n paar minute sink dit in: die verlore tas staan op Stellenbosch, in die kantoor van my koshuismoeder van verlede jaar – die wonderwerk het gebeur.
Toe die bakkie se flap in die Hexrivierpas oopgaan, het die mense in die voertuig agter ons gesien wat gebeur en die tas opgetel, maar toe hulle ons probeer inry, het ons reeds op die korter Overhex-pad afgedraai. Op die tas was my studente-adres op Stellenbosch nog en hulle kry “die arme student” jammer en besluit om dit af te lewer. Amper kom daar weer ‘n fout toe die eerstejaar op voordeurdiens hulle wegstuur omdat ek nie meer daar is nie!
Eind goed, alles goed. Die koffer is dadelik op Stellenbosch gaan haal, die rok is in die vrykamer opgehang en Saterdagmiddag het ek in die kerkpaadjie afgesweef asof daar geen katastrofe was nie. Die bruidspaar is op wittebrood in ‘n splinternuwe motortjie en die barmhartige Samaritane het later ‘n geslagte Overbergse skaap present gekry.
Ja, dink ek, mense kan so maklik sê “gooi af jou bagasie”, maar verloor dit en kyk net hoe sonder identiteit is jy dan.