Posted on 23 August 2011

Beriggewer: Marietta van Manen

 

'n RYkLIK geseënde negentig jaar is wat San Cillié, geliefde lid van VLV Durbanville en vrou van formaat, op Sondag 28 Augustus vier.

 

San - veels te jonk van gees om formeel as mev. Cillié aangespreek te word - is reeds 65 jaar lojale lid van eers die VLV, toe die VLU en daarna weer die VLV.

 

As iemand wat van kleinsaf lief was vir kuns en graag iets uit niets geskep het, was die VLV die ideale plek waar sy haar kreatiwiteit kon uitleef. Die jong kleuterskoolonderwyseres sluit op Laingsburg aan by die VLV. Sy maak 'n draai in die Suider-Paarl, waarna sy lid word van die VLU in Pretoria. In 1985 sluit sy aan by die VLV Durbanville.

 

Deur die VLV het sy baie vriende gmaak en baie geleer, sê San. Die vele trofeë en bekers wat sy oor dekades gewen het, getuig daarvan dat die VLV nie net 'n goeie leerskool is nie, maar lede inspireer om hul talente te ontwikkel.

 

San is veral bekend vir haar blommekuns, waarmee sy talle bekers verower het. Haar getroue en entoesiastiese deelname aan kompetisies oor 'n wye spektrum, het haar male sonder tal die beker vir die meeste punte algeheel besorg. As bestuurslid oor baie jare het sy 'n stewige bydrae gelewer. Sy het ook uitgeblink by landbouskoue.

 

San is in 1946 getroud met Gawie, 'n chemiese ingenieur, wat haar in 2002 ontval het. Vanweë sy betrokkenheid by waternavorsing, het hy plaaslik en oorsee baie gereis. Sy was besonder bevoorreg om hom nie minder nie as veertien keer op oorsese reise te kon vergesel, sê San.

 

Drie kinders, 'n seun en twee dogters (die jongste is op 12 jaar oorlede), is uit die huwelik gebore. San het drie kleinkinders en twee agterkleinkinders.

 

Hoewel San nie meer aan kompetisies deelneem nie, loop sy selde 'n VLV-byeenkoms mis. Met haar fenomenale algemene kennis, haar belangstelling in mense en gebeure - van algemene nuus tot politiek en sport - is San 'n inspirasie vir almal om haar. VLV Durbanville wens haar goeie gesondheid, vreugde en ryke seën toe.  


Comments are closed