Posted on 18 September 2011

Uit die pen van Marietta van Manen. . . .
         

TROU in ’n erfrok wat al twee eeuwendings beleef het, is min bruide beskore. Kosbare tradisie, maar hierdie erfreg, van oudste dogter na oudste dogter, is nie altyd jubelend begroet nie.

  

Daar was die bruid wat in rooi ewige trou wou sweer en die een wat op die strand wou trou in ’n vloeiende harembroek en sewe sluiers.

  

Maar Ouma Toet, soos latere geslagte na die eerste Elizabeth verwys het, het telkemale gewen. Wie is immers bestand teen die ouwêreldse bekoring van ryklik geborduurde Brusselse kant, die glans van pêrels, die skitter van kristalle en lae en lae sy en fyn kant wat om die voete wolk?

  

Weliswaar het elke bruid die rok haar eie gemaak. Bruid nommer drie het reeds die ragfyn moue en skouerstuk met die hoë halsbandjie – ouma Toet se toegewing aan Victoriaanse preutsheid – laat waai.  Die bustière se nate is verskeie kere versigtig uitgelaat en ingevat, na gelang van behoefte. So ook die romp se middeltjie. Soms is daar skouerbandjies bygevoeg, ’n halter van sy en krale. Net die dubbele ry pêrelknopies en lussies teen die rug af, met hul ingewikkelde oorkruis-vasmaakpatroon, het onveranderd gebly.

 

Soos elke bruid die rok haar eie gemaak het, het hulle ook die erfnaam hul eie gemaak, en duik noemname soos Thea, Elsa, Elize, Lissa, Esta, Lize onder die nageslagfoto’s op.

 

Tess, bruid nommer sewe, droom van kleintyd af oor die erfrok, van haar foto voeg by die bruidsgalery.  Maar toe ma Lize die deksel van die antieke bêrekis lig, lig die onheil sy motgifkop met ’n klank wat hulle laat steier. Die onheil kry lyf toe die eens sneeuwit rok bottergeel uit die kis te voorskyn kom. Die onheil brul toe Lize die bustière om Tess se lyf vou en sy knoop en lus vergeefs oor ’n kaal rug na mekaar probeer beur.

 

“Dis geel. Dit stink. Dis te klein. Ek lyk soos ’n oopgebarste wors.  Dis ’n  katastrofe!”  huil-snik Tess.
Ma Lize bly kalm. “Bedaar, Tess.  Ons torring die lussies af, ons koop kant en las stroke in, ons skep ’n rugkant wat die bruilofsgaste na hul asem sal laat snak.”


“Ouma Lissa kry die piep,” sê Tess. “Sy is heeltemal behep met die knope, mompel-mompel allerhande goed wat ek nie kan uitmaak nie, klink glad of sy skielik iets teen Piet het.”

 

 

“Sy verlang seker maar na Oupa, hy was mos ook Piet. Ons gaan ook nie die knopies weglaat nie, net herrangskik.”
Ma Lize las en pas, nies-nies tussen die motgifwalms deur. Die knopies loop al op die lasnate langs, beklemtoon die vleiende lyne van die inlasstukke.

 

Toe die kosbare bruidstabberd by die skoonmakers gehaal word, ruik dit na rose. Net – toet se kant en sy is so wit soos die dag toe die eerste Elizabeth haar bruidegom tegemoet gestap het, die insetsels sonskyngeel.

 

Nood leer blitsdink. Rose, room en geel en wit, vir die  bruidsruiker. Syrosies, van wit tot room tot geel, tussen die pêrelknopies en oor die romp gestrooi.


So sweef Tess op die groot dag stralend tot voor die kansel, die rugkant van die bruid, so weet sy, asemrowend.


Maar toe die  laaste note van die troumars wegsterf, styg ’n heel ander noot uit die voorste bank op.
“ ’n Rits!” jubel ouma Lissa. “Halleluja! Met  knope en lussies sukkel g’n Piet weer die lus skoon weg nie.”

 

 

Skrywer: Marietta van Manen, lid VLV Durbanville, Sirkel Tygerberg.
Marietta wen die sirkeltrofee by konferensie in Maart 2011 en verwerf vyfde plek by kongres in Augustus 2011.

Comments are closed