Posted on
22 September 2011
Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Petro Spangenberg
Vir die derde agtereenvolgende jaar is die VLV toegelaat om ‘n teetuin op die lekker kuierstoep te bedryf, en hierdie jaar het ons die lekkerste ontbyte ook voorgesit.
Twee plaaslike kunstenaars het in die een hoek hul eseltjies opgeslaan en rustig staan en skilder. Die troeteldierwinkel en kwekery binne-in die saal het gehelp om menige dors of honger skouganger te laat neerplons op ‘n stoepstoel en vir ‘n oomblik kon jy die sorge sien verdamp. Die koffie het gevloei en die groot skywe koek het elke dieet tot niet verklaar.
Verder het 30 inwoners van die plaaslike tehuis vir bejaardes kom aansit vir middagete, en danksy ‘n borg, is die uitstappie vir hulle ook die moeite werd gemaak in vele opsigte. Baie van hulle sien jaarliks uit na hierdie as enigste uitkom kans!
Dit gaan egter nie net oor kos nie. Bou ‘n brug is nie verniet ons volgende tema nie – ons het dit sommer ‘n brug van harte gemaak! Elke jaar is dit die geleentheid waar ons met onkundiges gesels oor ons 6 studierigtings, en elke jaar is daar by die eerste vergadering na die skou, ‘n hele paar nuwe gesigte te sien.
Om vir 3 dae alles by die huis af te skeep en voluit te gaan vir dit waarin jy glo en oortuig is van, het altyd die wonderlike uitwerking dat lede nader aanmekaar groei en kwaliteite in medelede ontdek word wat voorheen ongesiens verlore gegaan het.
Ons het ook ‘n eerste prys gekry tussen die kosstalletjies, en gaan ons prys (‘n bottel Whiskey!) uitloot vir ons plaaslike Kankerfonds!
Boonop oorweeg ons om met ons winste ‘n grootse poging aan te wend om dalk volgende jaar ‘n rekord aantal dagbesoekers by Hartenbos se kongres te besorg! Julle sal ons sien en hoor!


