Posted on 22 September 2011

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Marietta van Manen
Datum: 20 September 2011

 

In die middel van ‘n lang lys name, die geslagsregister van die stam van Juda in 1 Kronieke 4, staan een naam uit: Jabes. Nie oor die naam nie, maar oor wat rondom die naam opgeteken is.

  

Só lui vers 10: Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het.  

 

Uit hierdie teksvers kom die naam Huis Jabes, ‘n toevlugsoord vir slagoffers van gesinsgeweld. ‘n Tweede veilige huis is pas in die noordelike voorstede van Kaapstad geopen. Die twee huise wat tans bedryf word, bied ‘n tydelike, veilige heenkome waar omgesien word na vroue en hul kinders. Buiten dat voorsien word in basiese behoeftes soos ‘n dak oor die kop en kos op die tafel, word die vroue gehelp om die trauma te verwerk en ‘n sin vir eiewaarde te herwin. Hulle word ook gehelp om  werk te kry en uiteindelik op hul eie voete te staan.


Huis Jabes ontvang geen subsidie nie en is heeltemal afhanklik van skenkings en geldinsamelingspogings. Die bedryfskoste in hierdie stadium bedra tussen R30 000 en R35 000 per maand, sê mev. Adri  Klindt, stigter. Daar is ook altyd ‘n behoefte aan linne, kombuisware, meubels ens. Huisware wat nie in ‘n onmiddellike behoefte van Huis Jabes voorsien  nie, help met ‘n klein begin in ‘n eie woonplek wanneer vroue ná ‘n paar maande gereed is vir ‘n nuwe, onafhanklike lewe.
www.huisjabes.co.za.

Meer inligting oor Huis Jabes is beskikbaar op die webwerf

 

VLV Durbanville het twee duvetstelle en ‘n aantal donskussings geskenk vir ‘n kamer in die pas geopende tweede veilige huis.  Van links is Ester Conradie, ondervoorsitter, Adri Klindt, stigter van Huis Jabes, en Annette Conradie, voorsitter.

 

 

Comments are closed