Posted on
23 September 2011
Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Alet Colyn
Die vennote van MPV Boedeldienste, mnre. Koos van Zyl en Sakkie Pieters, het Goodwood tak se lede ingelig oor besparings ten opsigte van die vernaamste kostes verbonde aan die afhandeling van ‘n boedel. ‘n Boedel kan met die regte hulp vinniger, goedkoper en sonder onnodige komplikasies afgehandel word.
Volledige boedelbeplanning en ‘n prakties uitvoerbare testament is van uiterste belang en word dikwels afgeskeep. Daar is sekere kostes verbonde aan die bereddering van ‘n bestorwe boedel. Eksekuteursfooie en oordragkoste in die geval van vaste eiendom, boedelbelasting, kapitaalwinsbelasting en inkomstebelasting is van die vernaamste kostes. Vanaf 1 Maart 2007 is daar geen boedelbelasting betaalbaar op 'n boedel met 'n netto waarde van minder as R3,5 miljoen nie.
‘n Testament kan deur die erflater of ‘n ander persoon geskryf word. Daar is egter sekere risiko’s verbonde aan die erflating indien die ander persoon, wat die testament skryf, ook as ‘n erfgenaam benoem is. Dié persoon sal net kan erf tot die bedrag wat hy of sy intestaat (indien daar nie ‘n testament was nie) vanaf die erflater sou geërf het.
MPV Boedeldienste het tot stand gekom met die uitsluitlike doel om verskeie besparings in veral pensionarisse se boedels te bewerkstellig. Hulle neem geen vergoeding vir nadoodse inkomste, wat tydens die beredderingsproses ingevorder word nie. MPV onderhandel ook met prokureurs om die oordrag van vaste eiendom teen ‘n spesiale tarief te doen.
Koos van Zyl, Mara Binedell (Sameroeper) en Sakkie Pieters.
