Posted on
26 September 2011
Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Rina Coreejes
Saterdag, 17 September, het VLV Victoria-Wes vergadering gehou in Karooland Koshuis.
Joy Mans neem die opening waar en me. Du Plessis demonstreer drie soorte verbande vir armbeserings, nl. die smal draagband, die breë draagband en 'n verband vir 'n handbesering. Die dames moes elke demonstrasie prakties oefen deur mekaar se arms te verbind. 'n Mens kon sien die meeste dames se skooldae is lankal reeds iets van die verlede; die konsentrasie is nie meer wat dit was nie!
Aangesien September doofbewustheidsmaand is, is meer oor die De La Bat Skool vir Dowes vertel. Verlede jaar se jaarboeke van die skool is ook aan die dames uitgedeel. Daarna het die dames 'n toets gedoen om te bepaal wie gevaar staan om nommer 2 diabetes te ontwikkel. Eers moes die dames hul lengte, middel en gewig vasstel (natuurlik onder groot gelag en baie verskonings vir die algehele "agteruitgang"). Toe was dit tyd om 'n paar vrae te beantwoord waarvolgens punte toegeken word en daarvolgens kan bepaal word wat die risiko is om die genoemde siekte te ontwikkel. Almal teenwoordig het maar net weer besef hoe belangrik oefening en regte eetgewoontes is. Meer inligting oor die feite en mites van borskanker is ook aan die dames voorgehou.
Elma Visage bekyk die verband wat sy vir mev Sinclair aangesit het.
