Uit die pen van Fesia Engelbrecht . . .
Dit sou die troue van alle troues wees en tabberd van die eeu.
Toe Estrelita (voorheen Hestertjie) aan Arnoldus (voorheen Nolsie) verloof sou raak, het tant Hessie al so uitgehang. Terloops, die naam Estrelita het sy oor die radio gehoor. Dit klink darem beter as Hestertjie. Tant Hessie het vir Nolsie mooi vertel hoe hy die ring, wat Lady Di s'n soos 'n gelukspakkie-ring sou laat lyk, mooi tussen die blare van 'n oop roos moet laat nestel.
Toe kom die reëlings vir die groot dag. Alles van die beste - van oorsee, indien moontlik. Meters kant en tulle, pêrels, diamante en kristalkraletjies en bypassende juweliersware. Die bruidsmoeder en die bruidegom se moeder, die strooimeisies, middelmeisies en blommemeisies moes uitrustings van dieselfde skakering mosgroen dra. Nie ertjiegroen, avokadogroen of blaargroen nie - nee, mosgroen. Oordaad in die treffende trap! Oom Sarel skud sy beursie en sy kop. Dankie tog hy't net een ooilammetjie.
Spesiaal-gekweekte orgideë met die uitsonderlike mosgroen kleur is bestel. Twee spierwit duiwe (darem nie ook groen nie) pronk in 'n silwer koutjie voor die preekstoel. Praat van prag en praal. Silwer kandelare, kristalblompotte, spieëls - alles wat skitter en weerkaats - vir Estrelita, die sterretjie, net die beste en blinkste.
En dan - die allerfraaiste, asemrowende droomtabberd. 'n Wêreldberoemde ontwerper wat net vir die hoë lui skeppings maak, is die kunstenaar. 'n Veraf kleinniggie se wederhelf se tante se kleindogter was kleintyd die een of ander prinses se speelmaatjie. Dié het die ontwerper geken en alles gereël.
Weke lank word die korsetlyfie en die nousluitende romp borduur. Die sleep is byna onbeskryflik. Die meters tulle en kant is so geplooi, gefrummel, gesmok en ingeryg dat dit soos 'n skuimende kristalwit waterval in die kleine lyk. Vanaf die middelagter val dit trapsgewys wyer na onder en sleep dan 'n meter of drie agter die bruid aan. Estrelita Beautifica!
Die silwerversierde koets en vier swart perde staan gereed voor die hotel waar die bruid aangetrek het. Die stralende Estrelita bestyg die koets met die hulp van die galante koetsier. Maar o wee! Die trompetgeskal van 'n fanfare laat die perde skrik en vorentoe spring. Die koetsier keer nog, maar ongelukkig nie betyds nie. Die draaiende koetswiel gryp die sleep en slurp dit op soos 'n dorstige draak. Elke speek sluk 'n stuk van die miniatuur-waterval in.
Die perde het bedaar, maar die skade is onherstelbaar. lemand het 'n skêr en 'n kramtang by die hotel se ontvangstoonbank gekry. Die fyn valle word van die speke afgesny en die flenters aan mekaar gekram en dan aan 'n lint van die perde se versierings vasgemaak. Soos 'n voorskoot van agter word dit om die snikkende, verwese, geskokte bruid gebind. Uit die hotel se voorraad kry Estrelita 'n redelik stywe dop.
Onwetend van die drama wat hom afspeel, sit tant Hessie, die familie en gaste opgewonde en wag vir die sprokiesbruid. Arnoldus lyk bra bekommerd. Die orrelis speel dieselfde stuk oor en oor.
Toe die perde ewe rustig na die kerk vertrek, lê daar nog flentertjies fyn tulle die teerpad vol - kompleet asof daar ganse gepluk is.
Eindelik! Die koster gee die teken en op maat van Wagner se "Here comes the bride'! kom onse vrolike Hestertjie huppelend die kerk binne. (Danksy die dop!) Die sleep weliswaar baie korter en taamlik verflenter agterna - 'n heel nuwe skepping.
Estrelita Catastrofica!
Geskryf deur Fesia Engelbrecht, lid van Lutzville-tak, Sirkel Namakwaland. Sy behaal 2de plek by VLVK-Kongres, Villiersdorp 2011.