Posted on 12 October 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: SD Fourie
Datum: 4 Oktober 2011
 

Die afgelope Landbou-vergadering onder leiding van Mary Badenhorst en haar gasvroue was ‘n aangename verrassing.  Die saal was getooi soos ons streek – blommeprag vanaf die verhoog tot op die tafels en in tipiese landboustyl was erdwurmboerdery die onderwerp van bespreking

 

Susan Lochner van Grootbos het met ‘n pittige voorlegging die gebruiklike vroulike grillerigheid vir wurms die nek in geslaan en aan die dames verduidelik hoe dié boerdery se eindproduk jou plante laat gedy. Erdwurmtee is die beste plantvoedsel vir enige tuin of potplant. Om aan te sluit by potplante, het Mary op haar beurt weer verduidelik hoe om van ou koerante en sement  potte te maak.

 

Tydens die vergadering is die nuwe bestuur vir 2012 verkies:
Voorsitter – Rienie Ludick
Visevoorsitter – Charlene le Roux
Sekretaresse – Esmé van Dewenter
Tesourier – Annatjie Liebenberg

Die addisionele lede is: Naomi Nel, Francetta Cillie Malan, Miempie du Plessis en Mary Badenhorst.

 

Die bestuur het na die algemene vergadering die VLV Kaapland se Armoede-projek, Raak hart en hande, plaaslik van stapel gestuur. Tydens die VLVK-Kongres op Villiersdorp het alle takke vanoor die hele Kaapland bygedra tot die projek se tema, Tekkies en Tuck. Die tekkies en kospakkies is aan al die takke in Sirkel Overberg beskikbaar gestel. VLV Gansbaai het  hulle deel plaaslik versprei. Twee skole het reeds tekkies ontvang en nog twee kleuterskole, Die Kleine Gansies en Cool Kids, het tekkies asook koopbewyse van Pep Stores ontvang. Pep Stores se hoofkantoor het R5 000 aan VLVK geskenk vir dié projek en dit is onder alle takke in die Sirkel verdeel om na goeddunke te versprei.  Die ontvangers van al die broodnodige skenkings, het ‘n opregte dank teenoor VLV uitgespreek. Van die skole wat tekkies ontvang het, het laat blyk dat daar soveel as 55% van die leerders nie tekkies besit nie. 

 

 

Mnr. Volkwyn, skoolhoof Gansbaai Primêr, en SD Fourie tydens die oorhandiging van tekkies.

 

 

 

LNR Mariëtte Zeelie van Cool Kids, SD Fourie (voorsitter) en Lanita Marais van Die Kleine Gansies, tydens die oorhandiging van hul Pep Stores koopbewyse en tekkies.

Comments are closed