Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Lorraine du Toit
Datum: 17 Oktober 2011
Veertien lede van Bredasdorp VLV het op 11 Oktober 2011 hul jaarlikse uitstappie gehad en soos wafferse toeriste die Buffel-toer by die Nuwejaars Spesiale Bewarings Area naby Elim gedoen. Tom Ambrose het eers ‘n kort oorsig gegee en ook ‘n skyfievertoning aangebied voor die dames na die boma geneem is en hulle die buffels kon besigtig. Hulle is baie trots op die eerste baba-buffel in meer as 200 jaar wat so ‘n maand gelede op die plaas gebore is en die dames was bevoorreg om die baba van aangesig tot aangesig te beskou. Buiten vir die buffels, is daar tans zebras, rooi hartebeeste, bontebokke, elande, bergkwaggas en ook seekoeie op die plaas. Die seekoeie is in die vlei en kan tot 20km op ‘n aand loop om te wei.
Na ‘n ligte middagete en wynproe by Black Oystercatcher, is die dames verder na Elim waar die museum, Morawiese kerkie en ook die Elim Tehuis besoek is. Tydens die besoek aan die tehuis is daar ‘n skenking van heerlike vars groente aan hulle gemaak. Daar is tans 52 kinders by die tehuis en dit is hartroerend om die verskillende grade van gestremdheid van die kinders te ervaar. Die versorgers kom almal van Elim. Elim is in sy geheel as Nasionale Erfenisgebied verklaar.
Die dag is afgesluit met tee en die allerheerlikste melktert by die restaurantjie op Elim.

LNR Lorraine du Toit, Ina Odendaal, Marie Spamer, Pam Donkin, Suzie Wilson, Jossie Swart, Hetta Bezuidenhout, Corrie Swart, Ada Cornelissen, Mia Landers, Charlie Flack, Riona Swart, Madalene Loubser, Johene Grobbelaar voor die restaurantjie te Elim.

Die Morawiese kerkie te Elim.

Vlnr: Ada Cornelissen, Suzie Wilson, Marie Spamer en Peet, ons toergids vir die oggend, gereed om ons na die buffels te neem.
