Posted on 19 October 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Elize Perrin
Datum: 15 Oktober 2011

 

Die eerste spreker tydens Victoria-Wes se Landbou & Tuinbou vergadering was mnr Danie Swart. Hy is deur me. Sinclair aan die woord gestel en het die dames kortliks ingelig oor die (veelbesproke) skaliegas-ontginning in die Karoo. Mevrou Sinclair het die bome van die jaar aan die dames voorgehou, nl. die Doppruim, die Bruidsbos en die gewone Wildevlier. Nadat bietjie meer vertel is oor die Wêreldvoedseldag van 16 Oktober, is Tuinnuus met die dames gedeel. Meer is vertel oor Iluba wat vars rose aanbied wat hul kleur en geur vir ses maande behou. Die rose word met chemiese- en preserveermiddels behandel en mag nie in direkte sonlig, wind of reën kom nie. Dit moet so min as moontlik hanteer word.

 

Inligting is ook aan die dames deurgegee oor wat die plaaslike kwekery te koop aanbied. Die Roosfees wat (DV) vanaf 21-23 Oktober in Bloemfontein sal plaasvind, is ook bekendgestel. As deel van Landbounuus is meer vertel oor klimaatsverandering, asook 'n omgewingsramp wat aan die noordkus van Nieu-Seeland dreig. 'n Liberiese olietenkskip het daar gestrand en daar word gevrees dat die skip kan sink en besoedeling 'n bedreiging vir die robbe en seevoëls kan inhou.

 

Tuintake vir Oktober is voorgestel en me. Susan Muller het aan die dames 'n resep vir luise op Konifere, gegee. Die resep is: 5ml water/ 15ml jeyes fluid/ 15ml skottelgoedseep/ 15ml ammoniak/ 15ml koeksoda/ 15 ml Engelse sout/ ongeveer een kg suiker (om dit te laat vasklou). Spuit gereeld in al die al die maande wat 'n R in het.

 

Vir 'n bietjie pret, en sommer om die dames se kennis te toets, is 'n vasvra gehou met vrae wat handel oor eetbare blomme, Agri Noord-Kaap se president, bedreigde diere en natuurlik die oewerkonyn. Mev Loepie Vorster was die wenner en het pragtige petuniaplantjies met hierdie kennis verdien.

 

Nadat die verjaarsdagdames geluk gewens is, was me. Perrin so gelukkig om weer die verrassingsmandjie te wen.

 

Alhoewel dit die laaste amptelike vergadering vir die jaar was, bied die VLV nog die Kersmark en Kersspel op (DV) 4 November aan.

Comments are closed