Posted on
30 October 2011
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Riana Richter
Tydens VLV Piketberg se Leefstyl vergadering op 27 Oktober 2011 het Christo van Schalkwyk die lede weggevoer na sy fabriek Oregon & More in Piketberg.
Hy het nie net die vergaderlokaal in ‘n “vertoonkamer” met meubels omskep nie, maar ook ‘n draaibank saamgebring en behendig en vinnig ‘n kapstok se hake met Birmaanse kiaathout uitgedraai, die artikel voltooi en aan die tak geskenk om uit te loot.
Christo het rondom die onderwerp Restourasie en Riempies gesels. Inheemse woude van boekenhout en geelhout is uitgeroei en aan die verdwyn. Die gewilde oregon hout kom oorspronklik van Oregon in Kanada. Tussen 1902 en 1960 is bootvragte oregon uit Engeland na SA verskeep en is o.a. aangewend vir meubels en houtwerk in baie geboue. Vandaar die gesogtheid en goeie kwaliteit van deure, kosyne, rame, vloere en vloerlyste in baie van ons antieke geboue.
Goeie raad van Christo is om veral nie van meubels gemaak van Birmaanse kiaathout ontslae te raak nie. Dit raak skaars en die hout is onverganklik.
Die vergadering is gereël deur Frannie Botha, sameroeper van Leefstyl.

'n Bekende gesig by VLV Piketberg se maandvergaderings is 'n tafel met idees om by mekaar te leer soos hierdie by die Leefstyl vergadering.

Christo van Schalkwyk by sy draaibank besig om 'n kapstok te voltooi tydens sy demonstrasie by VLV Piketberg se Leefstyl vergadering.