Sirkel: Overberg
Tak: Bredasdorp
Beriggewer: Lorraine du Toit
Datum: 1 November 2011
Vrolike kersmusiek, die allermooiste kerstafels en ‘n heerlike ligte middagete het alles gewag op die lede van Bredasdorp met die afsluitingsvergadering op Dinsdag, 1 November.

Carin Groenewald, een van die lede, het die tafels gedek en ‘n demonstrasie gedoen waar sy allerhande wenke en idees gegee het rondom die dek van ‘n kerstafel. Die dames is getrakteer op ‘n heerlike voorgereg, ligte midddagete en ook die allerheerlikste koek en tert as nagereg - alles voorberei deur Charlie Flack en haar span. Hierdie knap vrou mág maar!
Barbara Mandy het ‘n paar voordragte aan die dames gelewer, terwyl Marianne du Plessis, ‘n matriekdogter van die Hoërskool Bredasdorp, die dames ook vergas het met ‘n paar sangnommertjies terwyl sy haarself begelei op die kitaar.
Tydens die vergadering het lede met 100% bywoning deur die jaar, erkenning gekry met ‘n klein geskenkie. Diensknopies is ook oorhandig aan Corrie Swart (10 jaar) en Rosemarie Maytham (30 jaar). Lede van die bestuur het ook elkeen ‘n geskenkie ontvang om dankie te sê vir hulle harde werk en ondersteuning deur die jaar. Taktrofeë is ook uitgedeel om erkenning te gee aan lede vir hul deelname aan verskeie kompetisies die afgelope jaar.
Die volgende lede het trofeë ontvang:
Jossie Swart - Spamer-trofee (Meeste punte : Gebak)
Lettie de Bruin - Eksteen-trofee (Meeste punte : Naaldwerk), asook BNK-trofee (Meeste punte by Konferensie)
Carin Groenewald - Van Heerden-trofee (Meeste punte : Blomme)
Hetta Bezuidenhout - Suidhoek-trofee (Meeste deelname)
Elke lid van die bestuur het ‘n pakkie geskenk wat uitgeloot was. Die dames kon net lekker agteroor sit en die oggend saam geniet. Almal kan nou bietjie uitspan na ‘n bedrywige VLV-jaar. Daar het ook 3 nuwe lede aangesluit tydens die vergadering!!
Die nuwe bestuur vir 2012 is ook aan die vergadering voorgehou. Hulle is as volg:
Voorsitter: Lorraine du Toit
Vise-Voorsitter: Marie Spamer
Sekretaresse: Jossie Swart
Hulp-Sekretaresse: Ina Odendaal
Tesouriere: Barbara Mandy
Addisionele lede: Mia Landers, Charlie Flack, Ann Gunning, Marlene le Roux
Die eerste vergadering vir 2012 vind plaas op Dinsdag, 7 Februarie, om 14:00, by die Overberg Agri Opleidingslokaal. Groot dank aan Overberg Agri vir die borg van die saal.

Bestuur vir 2012 : LNR Marie Spamer, Mia Landers, Barbara Mandy, Jossie Swart (Sekretaresse), Marlene le Roux, Lorraine du Toit (Voorsitter), Charlie Flack, Ina Odendaal en Ann Gunning.

Lede wat kentekens ontvang het : Corrie Swart (10 jr), Lorraine du Toit en Rosemarie Maytham (30 jr).

Lede met 100% bywoning vir 2011: Marie Spamer, Susie Wilson, Ina Odendaal, Hetta Bezuidenhout, Lettie de Bruin, Jossie Swart, Corrie Swart en Lorraine du Toit.

Trofeewenners vir 2012 : Marie Spamer (oorhandiging gedoen), Lettie de Bruin, Jossie Swart, Carin Groenewald, Hetta Bezuidenhout en Lorraine du Toit (Voorsitter).