Posted on
09 November 2011
Beriggewer: Hessie Kühl
Datum: 3 November 2011
VLV Porterville het hul bedrywighede op ʼn gesellige wyse afgesluit op 3 November 2011. Die bestuur is jaarliks verantwoordelik vir die beplanning en aanbieding van die afsluitingsvergadering. Dit is dan ook hul manier om dankie te sê aan die lede vir hul lojaliteit, entoesiasme en samewerking gedurende die afgelope jaar.
Vanjaar het ons ʼn heerlike kuiermiddag by die plaaslike kwekery gehad. Die sameroepers was verantwoordelik vir die dek van hul teetafels en die bestuur het die verversings voorsien. Die lede was dan ook aangenaam verras deur die pragtig gedekte tafels en heerlike eetgoed.

Hester Louw het ʼn Kersboodskap gebring. Dit is reg dat ons aan mekaar geskenke gee met Kersfees, maar doen dit met regte gesindheid. Jesus Christus self het pragtige geskenke ontvang, terwyl die gewers daarvan Hom geloof het omdat Hy hul grootste geskenk was. Gee dus aan mekaar geskenke om só ook hulde te bring aan dié Een wat ons steeds oorlaai met Sy geskenk van lewe, vrede en seën.
Nege lede het erkenning ontvang vir 100% bywoning, terwyl die wenners van die onderskeie kompetisie afdelings hul trofeë ontvang het.
Een van die hoogtepunte van die middag, was die herdenking van die tak se 82ste verjaarsdag op 8 November. Saam hiermee is hulde gebring aan een van ons erelede, Dorothy du Plessis, wat skielik op 9 Augustus oorlede is na ʼn kort siekbed. Sy was vir die afgelope 64 jaar lid van die VLV en was ʼn ware dame, ʼn wonderlike rolmodel vir al ons lede. Vier van haar beste vriendinne het kerse van herinnering aangesteek en kon ons weer op ʼn gepaste wyse finaal afskeid neem van ʼn baie besonderse en geliefde persoon.

'n Foto-collage van ons geliefde Dorothy du Plessis.

'n Ruiker aan Dorothy du Plessis met haar 90ste verjaarsdag op 11 Junie 2011.

Tinkie van Zyl (erelid), Sadie van der Merwe (sekretaris), Esther Smuts (erelid) en Cora van Niekerk (erelid) het die kerse van herinnering aangesteek.

Zabetha Albertyn ontvang die trofee as algehele wenner van Louwna Hoving.