Posted on 15 November 2011

Portefeulje: Kunste en Handvlyt
Beriggewer: Petro Spangenberg
Datum: 2 November 2011

 

Op die laaste vergadering van Kuruman tak is ‘n bietjie aandag aan woorde in kuns gegee. Maca de Klerk wat voltyds kunsklasse aanbied, het 'n wye oop landskap van Jan Groenhart gebruik as inspirasie.Sy het die skildery in akrielverf gedoen terwyl sy vertel het waarna mens moet oplet.
 

Die tegnieke wat jy gebruik om diepte en afstand in 'n landskapskildery voor te stel is:
1) Voorwerpe word kleiner en dowwer hoe verder weg hulle is.
2) Kleure beweeg nader aan blou en ligter hoe verder weg hulle is.
3) Teksture raak al meer weg hoe verder weg hulle is.

'n Skildery is soos 'n visuele toneelopvoering wat met verf gedoen is. Daar’s 'n storie of tema en hoofkarakters en byspelers wat saam die storie vertel. Hoe jy dit wat jy sien ervaar, vertel vir jou, jou eie persoonlike storie.
 

Maca se opinie is dat woorde in 'n skildery subtiel moet wees, eerder nog 'n dimensie van die skildery as die fokuspunt. Daarom ook in die kleurskakerings van die omliggende dele, maar effens donkerder sodat dit gelees kan word. Jy moet die skildery eerste sien, nader staan om beter te kan sien en dan eers moet die woorde bydra tot die storie van die skildery.

 

Die woorde wat sy laaste bygevoeg het was:"Winde van verlange, saai my drome wyd..." en dit was asof mens in die skildery kon inklim en deelword van 'n verlange, 'n droom waarmee jy wil eenword! Ongelooflik wat woorde in 'n skildery kan doen!
 

 

Die lede is verder aangemoedig om te skryf, toe Mev Edna Duvenhage wat gereeld VLV letterkundekompetisies beoordeel, almal aangemoedig het om te skryf. 'n Goeie wegspringpunt is om 'n idee/tema te neem soos byvoorbeeld: Die Glasvenster, wat die Dameskring onlangs gedoen het, en dan skryf elke persoon die gedagtes wat by jou opkom. Die uniekheid van elkeen se skepping gee selfvertroue. Die skryfproses is ook nie dadelik afgehandel as jy die laaste woord geskryf het nie. Soos met 'n skildery staan jy terug, slaap daaroor en die volgende dag gaan jy aan en verander totdat jy tevrede is. Skryf is om te herskryf.
 

Wanneer 'n kompetisie vra vir 'n skets, moet jy onthou dat jy slegs die buitelyne moet verskaf. Dink aan 5 hoogtepunte, en dit moet 'n prentjie laat in die leser se verbeelding. Daar is 'n groot behoefte aan 'n skryfkursus en ons hoop om dit vroeg volgende jaar aan te spreek.
 

Die item was deur Nicole Aucamp en Gerhard Spangenberg wat haar op die kitaar begelei het. Kuns, musiek, woorde... ons het soveel sintuie om die lewe optimaal te beleef en te geniet!

 

 

Comments are closed