Posted on 07 December 2011

Beriggewer: Annemarie Skibbe

 

Met die afsluitingsvergadering van Strand tak het Clauda Colyn hierdie getuienis afgelê.  Sy is vroeër die jaar met kanker gediagnoseer, maar is tans in remisie.

 

Gedurende 2011 het die Here die mense naaste aan my gebruik om aan my bepaalde lewenslesse te leer:

 

1. Toe my man noodgedwonge die totale huishouding op sy skouers moes neem, was daar geen ruimte vir verskonings nie – alles móés gedoen word. Ek het met skaamte onthou hoe dikwels ek vir die Here verskonings aangebied het : ek het nie nou tyd nie;  ek is besig;  ek kan dit nie doen nie;  ek wil dit nie doen nie; ek wil dit nie nóú doen nie.

In 2012 gaan ek, met Sy hulp, poog om verskoningloos in Sy diens te staan.

 

2. Vanaf hul geboortedag het ek my twee dogters versorg en vertroetel. Eensklaps is die rolle omgekeer en moes hulle my versorg en vertroetel. Ek het geleer dat ek nie altyd in beheer van sake kan wees nie en dat daar groot genade daarin lê om beheer oor te gee.

In 2012 gaan ek die Here in beheer van my lewe stel.

 

3. Ons twee kleindogters moes vanweë werksveranderinge, gedurende die tyd by ons inwoon. Nog laste en verpligtinge op my man se skouers, maar die Here weet wat elkeen nodig het en voorsien daarin voordat ons daarom vra. Wanneer die kleindogters saans by die huis inbars is alles gevul met hul jeugdige energie, entoesiasme en avontuurlus. Vir ons twee oues was dit ‘n onontbeerlike geskenk van Bo.

In 2012 wil ek my Christenskap met vreugde, waagmoed en energie uitleef.

 

4. My hartsvriendin het my donker dae met alledaagse dinge en klein verrassings opgekikker en die ander maatjie het aanhoudend vrae gevra om meer besonderhede en kennis te bekom.

In 2012 wil ek met nuwe oë kyk na die geloof wat ek aan moedersknie geleer het en weer opgewonde daaroor raak. Ek weet ook nou dat ek vrae mag vra en bekommerd mag wees en dat Hy dit sal beantwoord as dit in Sy wil is.

 

5. Benewens hierdie intieme kringetjie, was daar talle familielede, vriende, kennisse en selfs vreemde mense wat my voortdurend in hulle gebede opgedra het en die krag en vertroosting wat hieruit voortgevloei het, het my soms met byna fisiese geweld getref. Ek het gewéét die Here en al hierdie mense is by my.

In 2012 wil ek almal wat my pad kruis, waardeer en met deernis behandel en hulle in mý gebede aan die Hoër Hand opdra.

 

In 2012 wil ek “my vreugde in die Here vind” (Ps 37: 3-5).

Comments are closed