Posted on 21 December 2011

Beriggewer: Lorraine du Toit
Datum: 21 Desember 2011

 

VLV Hermanus en Sirkel Overberg het ‘n ware blom verloor met die skielike afsterwe van Erna Visser op 14 Desember 2011. Erna was bekend vir haar pragwerk met blomme en was nog betrokke by feitlik al die ongelooflike mooi massa-rangskikkings tydens die 2011 Kongres te Villiersdorp en was ook een van die beoordelaars by die Blommekuns-afdeling. Erna was ‘n VLV-lid vanaf 1987 toe hulle op Hermanus kom aftree het. 

 

Erna het op Hermanus grootgeword en was getroud met Theuns. Sy was ‘n onderwyseres en was tot voor haar onlangse hartklep-operasie nog op ‘n deeltydse basis by die Hoërskool Hermanus betrokke. 

 

Erna was ook baie betrokke by die Overstrand-gemeenskap en -skole en het al hulle blommerangskikkings vir spoggeleenthede gedoen. Sy was ook ‘n gerespekteerde lid van die Blomme Gilde in Somerset Wes.

 

Sy is tydens Konferensie 2011 deur Sirkel Overberg vereer vir haar jarelange toewyding om Blommekuns in die Overberg te bevorder. As kundige beoordelaar by sirkelkonferensies en aanbieder van ontelbare demonstrasies en kursusse, het Erna haar liefde vir die skoonheid van blomme uitgeleef en oorgedra op veral die VLV-lede van die Overberg. Sy word met hartseer gegroet, want die verlies van sò ‘n steunpilaar is ontsaglik groot.

 

Comments are closed