Posted on 29 January 2012

Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Victoria-Wes
Datum: 21 Januarie
Beriggewer: Elize Perrin

 

Saterdag, 21 Januarie, is Vic-Wes tak se Potpourri vergadering aangebied.

 

Nadat die voorsitter geopen het, is Albertram Prins aan die woord gestel. Hy was verlede jaar hoofseun van Victoria-Wes Akademie en het sewe onderskeidings in die matriek eindeksamen behaal. Met die prestasie het hy uit die Quintile 2- skole, eerste op nasionale vlak geëindig en vierde in die Noord-Kaap. Hy is ook aangewys as beste Rekeningkunde leerder in die Noord-Kaap.

 

Albertram het gesels oor die uitdagings wat die onderwys vir leerders inhou gedurende hul skooljare. Twee uitdagings wat hy genoem het, is om jou selftrots te behou en gemotiveerd te bly. Volgens hom het leerders nie meer hoop nie. Hulle dink as hul grootouers en ouers arm was, moet hul ook maar arm bly. Nog 'n uitdaging is om jou Christenskap, skool- en sosiale lewe as eenheid te leef; dis nie drie aparte "lewens" nie.

 

Rhonnie Perrin het gesels oor hoenders en spesifiek skouhoenders. Hoenderboerdery het vier bene, nl: vleis, eiers, teel van (braai)kuikens en bewaring van die rasse. Laasgenoemde is die Suid-Afrikaanse Skou Pluimvee Vereniging. Hy het meer vertel oor die verskillende rasse en waarna beoordelaars kyk wanneer geskou word.

 

Na die manne het Alida Viljoen gesels oor pottebakkery en vertel hoe die klei gebrei moet word en wat die bakproses behels. Sy het ook voorbeelde gewys van verskillende artikels wat laerskoolleerders gemaak het. Alhoewel dit 'n duur aktiwiteit is, is dit baie bevredigend.

 

Lynette van Rensburg het meer vertel oor die plaaslike Dienssentrum en hulle aktiwiteite. Sy het die dames bo 60 jaar gemotiveer om by die "Golden Games" betrokke te raak. Dis baie pret en sodoende kry die senior burgers ook oefening.

 

Voordat die dames tee geniet het, is wenke gegee oor hoe om op te tree tydens 'n noodsituasie by ‘n ongelukstoneel. Die dames is ook herinner aan die Kuieroggend by die skou op 11 Februarie waar Karoostories deur woord en klank vertel gaan word.


Die persone wat tydens die Potpourri vergadering opgetree het: Lynette van Rensburg, Rhonnie Perrin, Albertram Prins en Alida Viljoen.

 

Comments are closed