Posted on
01 February 2012
Sirkel: NOK
Tak: Jamestown
Studierigting: Landbou & Tuinbou
Datum: 25 Januarie 2012
Beriggewer: Antionette van Pletzen
Jamestown se VLV het afgeskop met 'n Landboubyeenkoms wat baie interessant aangebied is deur Lucia Lieberum. Sy het inligting gegee oor die Bome van die Jaar, nl. die Waterbessie, die Rooiboekenhout, en die Swartwortelboom. Die voël van die jaar is die Swaeltjie. Wenke oor die uitplant van vetplante is gegee: Die plantjie moet eers ± 2 weke bo-op die grond in skaduwee lê om wortels te vorm vóór dit geplant word. Raad oor groente- en blomtuine is gegee. 'n Potplant kan bv. buite in 'n boom in 'n lemoensakkie opgehang word. Potplante wat hoog staan (of tydens die vakansie stadig moet water kry) kan maklik natgemaak word met 'n plastiese bottel vol water, met 'n pypie wat deur 'n gaatjie in die prop gaan. Suig die water net effens na vore.
Lucia het die nuwe lone wat vanaf 1 Maart in werking tree, bekendgemaak, en lede ook aangemoedig om hul werkers te leer om huisgodsdiens te hou, toebroodjies vir hul kinders vir pouse in te pak, en ander menswaardighede toe te pas. Honde se komberse moet gereeld in growwe sout gewas word teen vlooie. Growwe sout kan ook in hul slaaphok gestrooi word. Vir babahondjies kan 'n mengsel van ½ koppie volroommelk en ½ koppie eiergeel verhit word en met 'n botteltjie ingegee word. Klein katjies kan dieselfde mengsel kry, maar voeg 1 teelepel room en 1 teelepel glukose by.
Handri van Zyl het vertel hoe Vliegduiwe-boerdery werk, en almal was verstom oor die kostes daaraan verbonde! Mei - Oktober is broeityd, waarna die kuikens vanaf die broeihok na die vlieghok verskuif word. Junie - Oktober is vliegmaande, en 6 weke voor die eerste wedvlug begin die duiwe al oefen. Hulle volg 'n spesiale dieet en word ook ingeënt teen bv pokke. Vliegduiwe word o.a. volgens hul oogkleur gepaar (geel of wit óm die swart van die oog).
Philna van Pletzen het vertel van die sogenaamde "Wurmplaas", waar organiese wurms gebruik word om kompos te vervaardig in 'n kleinerige houer. Dié waterige kompos maak 'n merkbare verskil in tuine! Sy het ook uitgevind dat suiwer wol beter beskerming in koeëlvaste baadjies gee as die gewone kunsvesel. Sy het verduidelik hoe dit werk.
Veronica van Vuuren het haar 25 jaar-kenteken ontvang.

Klein Jaco van Zyl geniet die teetafel die beste van alles!
.JPG)
Voorsitter Hilda v/d Walt (links) het die 25 jaar-kenteken aan Veronica van Vuuren oorhandig.