Posted on 18 August 2009

Die Hantam VLV-dames het vir hul Opvoeding en Kultuur vergadering in die Calvinia Museum bymekaargekom.

Me. Maxie Hugo, oud kurator, wat jarelange ondervinding van die Joodse inwoners van Calvinia had, het ons teruggeneem tot in die jare 70 n.C. toe die eerste Jode uit Israel begin trek het.  Omdat dit in hul natuur was om knap handelsmense te wees, het die meerderheid Jode besighede in hul nuwe heimat oopgemaak.   Sommer gou het hierdie inkommers geliefd geword onder die inwoners, a.g.v. hul reputasie as gulhartige "fair dealers".  Die samewerking tussen die bevolkings was oorwegend baie goed en hartlik, want die Jode het mos bekend gestaan as "die mense van die boek". Daar was ook 'n baie gemaklike en gemoedelike pastorale ooreenkoms tussen die verskillende godsdienste.

Die Joodse geloof en tradisionele rituele, is vir hulle baie belangrik.  Omdat die Jode in Calvinia 'n behoefte gehad het aan 'n bymekaarkomplek om hul dienste te hou, is die Sinagoge in 1920 geopen. In 1968 was daar egter te min Jode oor om die Sinagoge in stand te hou en die gebou is aan die Munisipaliteit geskenk, wat dit in ‘n  historiese Museum omskep het. 

Behalwe vir die interessante geskiedenis van die Jode, het mnr. Kinkie Augustyn ons 'n kykie gegee in die goeie harte van die Jode op Calvinia.  Hy was maar nog 'n jong skoolseun, toe oom Kinkie al te doen gekry het met hul gewoontes en besigheidsbeginsels.  Op 'n pragtige wyse vertel hy van die ou Jood op Middelpos, 'n ene Schear, wat eenmaal op 'n werknemer van hom afgekom het, waar dié gelê het om sy roes af te slaap ná 'n woeste kuiery.  In plaas daarvan om kwaad te word en die man 'n ding of twee toe te snou, het hy net laggend en kopskuddend vir hom gesê: "Saul, Saul, while you are a lying over here, there is the work still a waiting for you to be done."

Comments are closed