Posted on 26 August 2009

Martin Labuschagne van die Departement Waterwese in Cradock, het die afgelope week Hofmeyr VLV toegespreek.  Elke VLV lid het 'n geskenkpakkie vanaf Waterwese ontvang.

 

 

Hofmeyr het 'n ernstige watertekort, en dit gebeur dikwels dat daar nie water beskikbaar is vir huishoudings nie. Die ondergrondse waterbronne wat Hofmeyr van water moet voorsien, is lank reeds nie meer voldoende nie, en daar word nou na nuwe moontlikhede gekyk. Daar bestaan 'n moontlikheid dat Hofmeyr water vanaf die Verwoerddam kan bekom, maar dit sal 'n baie duur projek wees - sowat R250 miljoen.

 

62% van alle huishoudelike water gaan uiteindelik in dreine af, 35% word vir tuine gebruik, 13% word vir wasgoed gebruik en slegs 3% word vir drink- en kookdoeleindes gebruik.  Die grootste waterverbruiker is spoeltoilette en baddens.  'n Lekkende kraan kan 'n swembad volmaak, dog is daar oral in die land krane wat dag in en dag uit lek.

 

Verbruikers word aangeraai om nie die kraan te laat loop terwyl tande geborsel word, hande gewas, geskeer word nie.  Maak ook altyd die skottelgoedwasser en wasmasjien vol voordat dit aangeskakel word.  Stort eerder as om te bad, want 'n stort gebruik net 7 liter per minuut terwyl 'n bad sowat 80-100 liter per minuut gebruik.  Was motors met 'n emmer water en nie 'n spuit nie.  Lees gerus die watermeter soggens en saans, en monitor so waterverbruik.

 

In tuine word die kweking van omgewingsvriendelike plante wat op min water oorleef aanbeveel.  Groepeer plante saam sodat hoë waterverbruikers bymekaar geplaas is en lae waterverbruikers bymekaar geplant is. Moenie die tuin oorbenat nie, bepaal watter grondtipe daar is, en beplan daarvolgens.  Slegs 10 mm water is genoeg om die tuin behoorlik nat te gooi as die tuin uitgedroog is.  Bepaal eers of die tuin werklik water nodig het, dikwels lê die vog net sowat 5-8 cm onder die oppervlak.  Indien jy 'n besproeiingstelsel het, bestuur dit korrek. Sorg vir 'n deklaag om te verhoed dat die grondvog verdamp.  Raai jou manlike gesinslede aan om hul draaie buite te loop, want urine is die beste vloeibare bemesting beskikbaar.

 

V.l.n.r Jackie Murray, Estelle Kruger (Sameroepster van Openbare Sake) en Martin Labuscagne van Dept. Waterwese in Cradock

Comments are closed