Posted on 26 August 2009

KITS FOTOGRAFIE KURSUS AANGEBIED

Dadda de Jager, Sameroepster van Kuns & Handvlyt van Hofmeyr VLV het tydens die afgelope vergadering vir Lynn Edwards as gasspreekster genooi om 'n kitskursus in fotografie aan te bied, veral na aanleiding van die nuwe fotografie kompetisie-rigting in kunste.

 

Wanneer jy 'n kunsfoto beplan moet jy denkbeeldig die foto in 6 vierkante verdeel. Moet nooit die "prentjie" presies in die middel posisioneer nie.

 

As jy 'n persoon wil afneem, fokus op die persoon en beweeg dan weg om die persoon uit die regte hoek te fotografeer, en neem jou tyd hiermee. Buite foto's is altyd beter in vroegoggend of aandlig - want die daglig is te skerp en oorverlig die onderwerp. Moet nooit 'n persoon se gesig van te naby afneem nie, dan vertoon die kop heeltemal uit verhouding, en wanneer 'n persoon weer van te ver af afgeneem word, vertoon die agtergrond oorheersend. Behou die goue middeweg, en verdeel altyd die foto in 6 vierkante.

 

Wanneer 'n bewegende onderwerp afgeneem word, kan dit eintlik net met sukses gedoen word as die fotograaf teen dieselfde tempo as die onderwerp beweeg.

 

Dit vereis fyn beplanning om 'n foto te neem van 'n bewegende onderwerp, sodat die onderwerp in fokus is. Die agtergrond mag maar effens uit fokus wees, want dan dui dit op beweging. Baie goeie resultate word behaal wanneer 'n invul flits gebruik word om voorwerpe nader of verder weg van die fokus te bring. In die verkeerde lig kan die invul flits egter 'n foto ruïneer. As jy in volle sonlig moet fotografeer, verander altyd jou kamera se ligsensors om die ideale beligting te verkry. En laastens, moet nooit 'n groep mense op 'n ry laat staan vir 'n foto nie. Informeel is altyd beter, en selfs formele foto's moet ontspanne vertoon.

 

Lynn het ook 'n aantal foto's uitgestal wat sy van haar gesin en omgewing geneem het.

Dadda de Jager (links) (Sameroepster van Kuns & Handvlyt) en Lynn Edwards

Comments are closed