Posted on 10 September 2009

Fesia Engelbrecht skryf uit Lutzville:

 

Onder leiding van Mercia Smit, sameroeper van Gesondheid, het ons lede die Reënboog Kindersorgsentrum op Vredendal besoek. Hier word kinders met verskillende gestremdhede versorg. Aan die woord was Susan Carstens, hoof van die sentrum en VLV lid van Lutzville.

 

Sy vertel van die verskillende gestremdes en die sindrome waaraan hulle ly. Die kinders word deur ‘n hele paar versorgers opgepas, gestimuleer en gekalmeer, want dit is ‘n groot probleem en die kinders is besig-besig-besig!

 

Ons hoor en sien en beleef in ‘n uur en ‘n half van die volgende sindrome: serebrale gestremdhede (ataksies, athetoidies), hemiplegie, diplegie, kwadruplegie, tetraplegie, outisme, cri du chat, angelman of happy puppet, sotos, Down’s, fetale alkohol, Lennox gestaut, epilepsie en hidrokefalus.

 

Die eienskappe wissel van gehoorverlies, stywe spiere en gewrigte, onwillekeurige bewegings, spraakgebrek, bewerige handbewegings, emosieloos, swak kommunikasie, herhalende gedrag bv. wieg en hande flap. Daar is vele meer en sou H & H geheel in beslag neem.

 

Fisiese afwykings by verskillende sindrome in die voorkoms sluit in: ‘n klein koppie, ogies wat afwaarts loop, smal of breë kakebeen, laagliggende ore, stukkies vel voor ore, gewebte tone en vingers, slegs een lyn in die handpalm, groot kop, skuins ogies, plat neusbrug, tong wat uitsteek, kort nek, wit kolletjies in iris, groot spasie tussen groottoon en tweede toon, ronde gesiggie, abnormaal-gevormde ore, groot neusgate, dun bolip en bultende fontanel. Die “Happy Puppet”-sindroomlyertjie is lig van kleur en het blou ogies. Hulle het ‘n gelukkige houding en lag baie, is slap soos ‘n lappop en het ‘n intellektuele agterstand.

 

Om die kinders te hanteer, verg liefde, eindelose geduld en volharding. Daar word gepoog om hul spraak te bevorder, selfhelpvaardighede aan te leer, sosiale vaardighede te kweek en soms om die nodige ondersteuning te gee om net te oorleef.

 

Diegene wat normale kinders en kleinkinders het, kan die hemelse Vader nie genoeg dank nie. Kom ons almal bid vir die lyers en veral vir hulle ouers en versorgers. Hulle het spesiale genade van bo nodig.

Comments are closed