Sirkel Noord-Karoo se takke kan jaarliks vroue, wat sonder winsbejag ‘n verskil maak in hul gemeenskappe, nomineer om as die sirkel se Vlindervrou gekies te word. Die Vlindervrou word vir ‘n tydperk van een jaar, Konferensie tot Konferensie, verkies.
Vanjaar se Noord-Karoo Vlindervrou, Hanneke Potgieter, is ‘n boervrou uit Petrusville-distrik.
Sias en Hanneke het in 1984 in die Petrusville distrik begin met ‘n besproeiingsboerdery. Hanneke het dadelik by die VLV aangesluit en is reeds 25 jaar lank ‘n lid. In dié 25 jaar het sy vir ten minste 20 jaar in verskillende sameroepers afdelings op die bestuur gedien. Sy was takvoorsitter vanaf 1996 tot 2001. Sy is tans sameroeper van Opvoeding en Kultuur.
Hanneke is baie betrokke in die gemeenskap. Net soos wat sy dadelik by die VLV ingeskakel het, het sy dadelik by die kerk en veral by sending en evangelisasie betrokke geraak. Sy was die 1ste vrou wat as ouderling gekies is in Petrusville se NG kerk. Haar uitgangspunt is om die Beeld van God in elke mens raak te sien – ook in die bedelaar, die ou dronkie en die straatkind en haar passie is om elke mens met die Evangelie te bereik. Sy wil hê dat elkeen moet weet dat hy of sy vir God kosbaar is.

Om haarself beter toe te rus om haar medemens te help en geestelik op te bou, het sy verskeie kursusse gedoen soos lekeberading, geestelike berading, EE 3 vir volwassenes en vir jeug asook kinder evangelisasie. Dit is vir haar belangrik om geestelike boeke te lees en om self Bybelstudie te doen. Te midde van vele verpligting, maak sy egter tyd om na mense te luister en om vir hulle te bid as iemand haar nodig het.
Reeds vanaf 1991 was sy betrokke by verskillende plaaslike inisiatiewe en forums vir gemeenskapsontwikkeling waar sy skakel met leiers in die Bruin en Swart gemeenskap, veral met die geestelike leiers. Hanneke organiseer verskeie interkerklike gebedsaksies en evangelisasie aksies. Sy reël plaaslike uitreike met die Jesus film. Sy tree gereeld op as prediker in die VGK, spreek jeuggroepe of vrouegroepe toe, tree op as spreker by funksies of vergaderings en lei verskeie Bybelstudiegroepe.
In 2003 is die Renosterberg Gemeenskapsprojek gestig en Hanneke dien van die begin af op die direksie. Sy is die tesourier, met al die verantwoordelikhede wat daarmee gepaard gaan. Sy probeer deurentyd om Bruin en Swart mense op te lei en te bemagtig om dinge op die regte manier te doen en om self verantwoordelikheid te neem. Tussendeur luister sy na almal se klagtes en onderonsies en probeer op haar rustige, kalm manier om die vrede te bewaar en die werk te laat voortgaan.

Hanneke is meestal besig om dinge te reël en te organiseer. Sy is egter altyd bereid om self moue op te rol en in te spring. Sy sal help kook en kos opskep by die sopkombuis, speel met klein swart kindertjies vroteier by die jaarlikse kerspartytjie en gee nie om in plakkershutte in te gaan om by ‘n siek persoon wat op die grond lê, te buk en vir hom/haar hande op te lê en te bid nie. Sy het altyd ‘n glimlag en ‘n woord van bemoediging vir haar medemens.

Op die plaas sorg Hanneke vir die administrasie en boekhouding van die boerdery en doen opheffingswerk onder die plaaswerkers.
Sias en Hanneke het 3 kinders: Johan, is getroud met Liezl en hy werk as chemies ingenieur in Johannesburg, Wilmarie werk as onderwyseres in Engeland en die jongste seun, Chris, boer saam met sy pa.
Sy sê, soos die sanger Koos du Plessis: “Wat ek is, is net genade, wat ek het, is net geleen.....”