VROUE VAN MÔRE IN VOELING MET HUL "WATER'' soos berig deur Janine Brynard, Hantam VLV.
Die tjaila-paadjie huistoe, het die afgelope klompie maande vir menige gefrustreerde motoris sommer skielik kort geraak en 'n blou-Maandag-gemoed is heel dikwels opgekikker. Dis gewoonlik die uitwerking wat Amoré Bekker van RSG se nou reeds bekende én geliefde stem oor die sender op haar luisteraars het. Om nie eens van al haar stories en staaltjies te praat nie!
Tydens 'n pragtige vonkelwyn-ontbytgeleentheid op Saterdagoggend, 17 Oktober, tydens Nieuwoudtville se landbouskou, het Amoré as spreker opgetree. Die dames van Nieuwoudtville VLV het die funksie gereël ter viering van VLVK se 80ste verjaardag, en VLV lede van Sirkel Namakwaland saam met hul gaste, het ook saam kom feesvier.
Me. Karien van Schalkwyk, Sirkelpresident en VLVK Visepresident, het ons oor 80 jare laat terugstap tot by die stigting van die VLVK. Met groot agting en waardering vir ons voorgangers, en 'n warm trots in ons harte vir 'n grootse organisasie wat reik na die sterre, het sy 'n heildronk ingestel saam met die 6000 VLV-susters regoor Kaapland.
As dit nie was vir haar intuïsie nie, was Amoré Bekker vandag moontlik op 'n klein Griekse eilandjie - ongelukkig, mistroostig en miserabel. Sy noem dit graag haar "water", maar mense praat ook van die sesde sintuig, klein stemmetjie, beskermengel, Heilige Gees of sommer net 'n vlinder-gevoel. Sy vertel openhartig oor 'n bittere liefdesteleurstelling, wat haar destyds byna van haar geluk en sinne beroof het, maar dat sy, met die leiding van 'n dierbare vriendin, haar "water" leer vertrou het, en tot ander insigte gekom het.
Sedertdien het Amoré intensief navorsing begin doen oor daardie fantastiese gawe wat elkeen van ons het - mans én vroue! Dat dit as 'n chemiese toestand in elkeen van ons se breine bestaan, as't ware die hoogste vorm van intelligensie, is 'n voldonge feit. Ongelukkig word die intuïsie so dikwels gering geskat, en selfs afgemaak as bogtery - veral deur die manne. As hulle maar net kan besef dat dit geen skande is om op jou intuïsie staat te maak nie...inteendeel, dit kan jou lewe soveel verryk, én dit kan jou van baie hartseer en ongeluk vrywaar. Die belangrikste is om ingestel te raak op jou intuïsie, en onmiddellik daarop te reageer wanneer dit jou waarsku.
Kyk 'n mens so 'n bietjie na al die opwindende nuwe dinge wat beplan word vir die volgende 80 jaar, en alreeds deel is van die VLV, kan jy nie anders as om intuïtief te weet dat hier nog groot dinge voorlê nie. En dis nie sommer ouvrou-stories nie. Watch this space!
Op die foto is Heidi van Niekerk van Nieuwoudtville tak wat die funksie organiseerder was links, middel is Amore Bekker en regs is Karien van Schalkwyk, Sirkelpresident en VLVK Visepresident wat die heildronk op VLVK ingestel het.
