Posted on
31 October 2009
Die Campbell en Griekwastad takke het hul viering van die tagtigste bestaansjaar van VLVK gesamentlik op die plaas Kaalkol, tuiste van mevv. Hettie en Romi Ludwick aangebied.
Die buurtakke deel in die ryke geskiedenis van VLVK. Die vieringe is effe somber begin deur 'n kranslegging in die Griekwastadkerkhof. Kranse is op grafte van vorige sirkelampsdraers gelê. Mev. Hanna van der Linde, 'n vorige voorsitter van Griekwastad tak en huidig sirkelbestuurslid, het 'n krans op die graf van haar moeder, ook 'n voormalige takvoorsitter en sirkelpresident, gelê. Nog 'n krans is op die graf van wyle mev. Hester Duvenhage, jarelange sirkelpresident en takvoorsitter en suster van die huidige takvoorsitter, mev. Yvonne Ludwick, gelê.
Na die kranslegging het die dames na die plaas Kaalkol in die Campbell distrik vertrek waar hulle gesellig saam gekuier het. Mev. Gio van Eck, voormalige voorsitter van Campbell tak, het die heildronk op VLVK ingestel nadat sy kortliks oor die geskiedenis van VLVK gepraat het. Sy het die heildronk op die "waardige ou dame wat soveel lewens verryk en verruim het oor die afgelope tagtig jaar" ingestel. Van Eck het ook haar waardering vir dit wat VLVK aan lede gebied het en haar geloof in die toekoms van die organisasie, uitgespreek.
Tydens 'n demonstrasie deur mev. Magda Vlok van Douglas, is 'n spyskaart wat uit geregte waarin filodeeg gebruik is, gedemonstreer. Dames kon so baie nuwe idees vir hul kersspyskaart versamel. Vlok het interessante geregte soos biltongslaai, wildsfilet met feta en spinasie in filo, bedien met uiemarmelade, Bistilla, Kefta Brioats, gevriesde suurlemoenroom en kantpannekoek met aarbeie, om maar 'n paar te noem, is gedemonstreer.
Ruikers is aan besonderse vroue wat baie jare positiewe diens aan VLVK in die Griekwaland-Wes sirkel gelewer het, oorhandig. Mevv. Selma Vorster, ere sirkelpresident, Gio van Eck, voormalige takvoorsitter en sirkelsaamroeper, Martha Haumann, jarelange takvoorsitter en Hanna van der Linde, oud-takvoorsitter en sirkelbestuurslid is op hierdie wyse vereer.
Van links op die voorgrond mevv. Elize van der Schyff, Selma Vorster, Yvonne Ludwick, voorsitter, en Hanna van der Linde tydens die kranslegging op Griekwastad.

Magda Vlok demonstreer

Van links mevv. Martha Hauman, Gio van Eck, Yvonne Ludwick, Hanna van der LInde en Selma Vorster
