Posted on 07 January 2010

Nadat die roos in die 1800’s in Europa ‘wortel geskiet’ het, word daar vandag honderde verskillende variëteite en hibriede gekweek. Die moderne roos het sy oorsprong reeds 5000 jaar gelede in Asië gehad, maar hierdie langdurige blom het na soveel duisende jare nog steeds nie sy romantiek verloor nie. ‘n Gelukkige roosboom kan tot 20 jaar oud word en sal in Suid Afrika vir soveel as 9 maande van die jaar blom.

 

Sirkel Griekwaland-Wes het hande gevat met Kimberley se Tuinbouklub om ‘n geurige en kleurryke Roosskou die lig te laat sien tydens die Feesseisoen. Ou gunstelinge soos Peace, Grandmere Jenny en Vienna Wood het nie ‘n aks teruggestaan vir jongelinge soos Just Joey, Out of Africa en Hyke nie. Dit was egter die rooi roos Aleluya, wat seëvierend die kroon gespan het oor al die roosweelde.

 

Roos foendie, Bella Botma, het raad gegee oor die basiese beginsels om rose suksesvol te kweek.


Onthou altyd dat sonlig baie belangrik is vir groei. Sowat 6 ure volson per dag op ‘n windbeskutte plekkie, sal jou roosboom laat gedy.

 

Dit is ook belangrik om die grond goed voor te berei, want rose hou van krummelrige, goed gedreineerde ryk grond. Plant jou roosboom in ‘n vierkantige gat met klippies onderin vir goeie dreinering. Die gat moet ook effens wyer as die sak se deursnee wees. Dit is raadsaam om die roosboom goed water te gee, sowat ‘n uur voordat jy dit gaan plant.

 

Roosbome is dorstig en dit is belangrik om ten minste 2-3 keer per week deeglik en stadig na te maak. Die wortelstelsel is sowat 30cm onder die oppervlak - maak dus seker dat daar diep genoeg nat gelei word. ‘n Deklaag van ou kraalmis, kompos of bas sal help om verdamping te verminder. Dit is egter nie wys om die blare te laat nat word nie en ook nie om jou roosbos teen skemeraand nat te lei nie. Roosbome hou nie daarvan om met nat blare te gaan slaap nie, want dit bring siektes soos swart vlek en meeldou mee.

 

Kos is noodsaaklik vir suksesvolle groei. Bounce Back of Ludwig’s Vigorosa 5:1:5 een maal ‘n maand sal sorg vir noodsaaklike voedingswaarde. Die toediening van ’n verdunde blaarvoedingmengsel soos Nitrosol, sal veral in warmer maande goed wees.

 

Enige roos, ongeag die naam, sal jou tuin verfraai en jou vir baie jare plesier gee. Pluk armsvol vir jou huis of gee voortaan eerder ‘n groen geskenk.

 


Volgens Melana Moller, sirkelpresident van GW, het die geleentheid by Kremetart Kwekery in Kimberley, nie net gesorg vir uitstekende roosboom verkope nie, maar het die VLV ook baie goeie blootstelling gekry. Ander takke en sirkels kan gerus kennis neem!

 

Duet


 

 Roosweelde

 

Comments are closed