Dames van Despatch Tak het die jaar afgeskop met ‘n kaas en wyn geselligheid in Annatjie Kemp se tuin. Die lapa was feestelik versier met sterre van verskillende groottes, versier met goud of silwer. Tafels met swart of wit tafeldoeke en kerse net waar jy kyk. Lanterns het die ingang na die tuin verlig. En wat ‘n verskeidenheid van kase, broodjies, patees en wyne is genuttig terwyl sagte musiek op die agtergrond gespeel het. En het die dames gekuier! Voorwaar ‘n wonderlike begin van die jaar 2010!
Die volgende motiveringsboodskap “Droom” is met die opening gelewer:
Ons almal ken die verhaal van Abraham wat met die beeldskone Sara getrou het. Hulle het albei gedroom van die dag as hulle ‘n kindjie sou hê. Maar Sara was onvrugbaar. Toe roep die Here vir Abraham en belowe dat hy hom ‘n groot nageslag sou gee.
Op nege-en-negentig jaar het die Here weer aan Abraham, verskyn en ‘n verbond met hom gestig en belowe dat hy ‘n groot nageslag sal hê. Maar niks gebeur nie. Sara bly onvrugbaar en die jare gaan verby.
Dan eendag toe Abraham en Sara al baie oud was, stuur die Here drie mans na Abraham toe om hom mee te deel dat hulle oor ‘n jaar weer sal terugkom en dan sal Sara ‘n seun hê. Kan ons Sara kwalik neem dat sy gelag het? Sy was al verby die ouderdom van kinders in die wêreld bring. Dit was tog sekerlik onmoontlik om op hulle ouderdom nog ‘n kind te kon verwek.
Maar by God is alles moontlik. God is almagtig en hulle droom word bewaarheid wanneer Isak gebore word.
Het jy ook ‘n droom wat net nie ‘n werklikheid word nie? Vind uit of dit God se droom vir jou lewe is. En moenie moed opgee nie – God se tyd is altyd die regte tyd.
In Jer. 29:11 lees ons “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.” ‘n VERWAGTING – iets om na uit te sien.
Ons tema hierdie jaar is: REIK NA DIE STERRE – kom ons styg uit bo ons omstandighede en droom van die toekoms wat God vir ons wil gee. En kom ons geniet die lewe wat Hy vir ons gee. Jesus het self gesê: “Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê en dit is oorvloed.” (Joh.10:10) Droom en reik na die sterre!
Wilma Erasmus, Rina Nel, Brenda Myburgh

Beatrice Lombard en Duifie Barnard

Reëlingskomitee van kaas en wyn, Annatjie Kemp, Marie Barnard, Aneen de Jongh, Moniques Büchner en Anna Vosloo in ligte luim.
