Posted on
16 March 2010
Avice Steenkamp, Skoolhoof en VLV lid van Hofmeyr, het tydens die pas afgelope VLV vergadering haar erdwurmboerdery aan die VLV lede kom vertoon. Sy het as gas van Anne Nel, Sameroepster van Landbou & tuinbou opgetree, en het vertel hoe sy met die boerdery begin het, nadat haar twee dogters die aanvanklike beginners toerusting as geskenk vir haar 50ste verjaardag gegee het. Sy het ook die lede genooi om binne die boerdery te kom loer, en hulle kon die werking van die klein ekosisteem bekyk.
Die wurmtee wat as neweproduk verkry word, word gebruik om plante te stimuleer om beter te groei en die kompos wat deur die wurms nagelaat word, word elke twee weke uitgesif om as kompos in die tuin te gebruik.
Avice met haar wurmboerdery tydens 'n onlangse VLV vergadering. Die houer is gevul met erdwurms en daaglikse oorskietkos en organiese oorskiet word saam met nat koerante in die houer geplaas, en die wurms verwerk dit tot uiters effektiewe kompos en wurmtee.

Hier hou sy 'n klompie erdwurms uit haar boerdery in die hande, om te toon hoedat hulle 'n oorryp piesang benut het en dit tot kompos en wurmtee verwerk.
