Posted on
16 April 2010
Rina Coreejes het nuus gestuur uit Britstown.
Aprilmaand samel ons vriendskapsmunte in vir die WBPV en dan is dit ons gebruiklike vriendskapsmaand. Vriende en huishulpe van die lede is uitgenooi om die dag saam met ons deur te bring.
Ons het vriende uit Holland, Belville en Bloemfontein gehad wat hierdie dag met ons gedeel het. Almal is in groepe gedeel en elkeen kon vertel wat vriendskap vir hul beteken. Ons is almal opnuut herinner om ons vriendskappe te waardeer en te koester.
Ons Leefstyl sameroepster, Elsa Human, in samewerking met een van ons lede, Elna Kriek, het aan ons 'n program met die titel, "Blikkie Vis" aangebied. Met behulp van 'n lesing oor die voedingswaarde van 'n blikkie vis, 'n demonstrasie om 'n groot ete vir 'n gesin met 1 blikkie vis voor te berei en 'n keurig saamgestelde resepteboek, was ons elkeen verryk en aangemoedig om meer van 'n "blikkie vis" in ons maaltydbeplaning gebruik te maak.
