Posted on 23 April 2010

Saterdag, 17 April 2010, het Victoria-Wes se Opvoeding vergadering plaasgevind. Die dames is verwelkom met 'n heerlike muesli gereg en ‘n glasie sap. Na die opening is aandag gegee aan verskillende kulture, die gesin, kinderopvoeding en simbole van ons land. Tussenin is 'n gebed van Moeder Teresa voorgelees. Die vergadering is afgesluit met 'n praatjie oor prioriteite deur Joan Human. Dit is geïllustreer met 'n groot fles waarin gholfballe, albasters, sand en ... koffie gegooi is. Nes mens dink die fles is vol, kan jy dit met nog iets opvul. So is ons lewe ook - vol dingetjies. Ons moet net besluit watter is die belangrikste - ons gesin, familie, vriende. Daar is altyd tyd vir die res ook, maar dit mag nie ons tyd steel nie. En die koffie?  Maak altyd tyd vir 'n lekker koffietjie tussenin.
 

Die dames moes almal 'n voorskoot en serpie aangesit het. Van dit het baie interessante stories tot gevolg gehad. So is Mimi Hugo se voorskoot van Brusselse kant baie interessant; haar moeder het dit in 1962 vir haar saamgebring vanaf 'n oorsese reis. Elsa Olivier se voorskoot is weer van 'n oorgooi lappie gemaak en Silvia de Klerk se voorskoot is ‘n "erfstuk" - dit het jare terug agter gebly na 'n VLV funksie. Die fonds van die dag was Ella Swanepoel se serp. Dit is definitief 'n VLV serp, want dis wit met die embleem (potjie) oral op en in die een hoek 'n afdruk van Jubileum huis. Sy is nie presies seker van die oorsprong van die serp nie, maar vermoed dit was haar ma s'n. Laasgenoemde was jare lank 'n VLV lid. Me Swanepoel het die serp by 'n oom van haar gekry. Kan een van die ouer VLV lede dalk help met die oorsprong en jaar waarin dit uitgegee is? - Sien meegaande foto - ons vra verskoning vir die gehalte van die foto.
 

Dis nie die einde van die lekkerte nie; ons beplan ook 'n praatjie oor Olive Schreiner deur Darryl David - die enigste Indiër lektor in Afrikaans in die land. Dit sal (DV) op 14 Mei om 18:30 in Victoria-Wes se kerksaal plaasvind en beloof om baie interessant te wees. Vir navrae/ kaartjies kan Elize 0726005809 gekontak word.

 

Ella Swanepoel met haar VLV-serp.

 

Comments are closed