Posted on 10 May 2010

Elke jaar hou  Nieuwoudtville tak ‘n pretstap vanaf die dorp tot by die waterval, ten bate van takfondse. Op 1 Mei was daar weer so gemaak.

 

Oud en jonk, mans, vrouens, en kinders kom saam om deel te neem. Dit is sowaar ‘n PRETTIGE staptog. Die stappers het by die Kerksaal aangekom met voertuie, fietse en selfs stootwaentjies. Daar is om 08h00 weggespring en party was baie fluks - hulle het sommer die 7km tot by die waterval gedraf. Ander het fiets gery, die pad op ‘n drafstap aangedurf en party ma’s met hul kleuters, het al geselsend saamgestap. Een ding het almal ten minste geweet en dit is dat die lafenis by die eindpunt wel verdiend sou wees.

 

Lulu Kotze het die wenners by die eindpunt ‘uitgevang’, waar ‘n heerlike ontbyt en drinkgoed gereed gestaan het om die stappers te verfris. ‘n Glasie is geklink toe die wenners hul pryse ontvang het.

 

Leana van Wyk, voorsitter van die tak, het die stappers geprys vir hul deelname, en beklemtoon dat, om te BEWEEG, die beste terapie teen stres is. Sy het die mense aangemoedig om gereeld te stap of fiets te ry.

 

Dankie aan die VLV-dames wat verantwoordelik was vir die uithaler ‘boere’-ontbyt!  Dankie aan die “Vasvat” stapgroep van Vredendal, wat ons ondersteun het.  Volgende jaar...DV... maak ons weer so.

 

Dan hoop ons om  nog meer stappers van buite te betrek. Hoe lyk dit Loeriesfontein, Vanrhynsdorp en Calvinia?

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Comments are closed