Posted on 12 May 2010

Elsa Marais, sameroepster van Leefstyl Naaldwerk het die vergadering gekoördineer, en vir Sonna Kitching genooi om dollaslapwerk vir die dames te kom leer.  Sy het ook 'n aantal van haar eie naaldwerk-kunsartikels kom wys.

 

Die dames het aandagtig geluister na haar praatjie. Sy doen ook fyn laslappiewerk, en borduur ook aan 'n projek wat eersdaags afgehandel sal wees.  Dit bestaan uit 'n aantal katprentjies wat in verskillende borduursteke en style weergegee word.  Op die foto vertoon sy reeds een van die katprentjies wat katte in allerlei eienaardige posisies uitbeeld en met sprekende gesigsuitdrukkings.

 

As hulpsameroepster het Vivienne Labuscagne 'n vasvra gehou, wat deur Truda Beukes gewen is.  Vivienne het 'n aantal vrae gestel oor Hofmeyr se geskiedenis. Dit was duidelik dat almal nie oplettend genoeg is en na datums en inligting op geboue let nie. 

 

Madri du Plessis het weereens die lagspiere geprikkel met 'n baie insiggewende voorlesing van 'n grappie uit die jare toet - sy is altyd 'n bron van vermaak vir die plaaslike VLV tak.  Die Wit Olifante verkoping het onder heelwat lagbuie 'n inkomste van R650 vir takfondse ge-in en die marktafel was oorlaai met aartappels en 'n aantal wintertuin-plantjies. Isabelle Wilken het na hulle toer, al haar toerfoto's & gedenkwaardighede uitgestal. Sy het ook 'n Power Point aanbieding gegee.  Teresa Opperman het 'n kort opsomming deurgegee nadat hulle teruggekeer het van die VLVK Tienerkok kompetisie te Piketberg. Hul dogter Lizanne, het Sirkel Cradock verteenwoordig en as naaswenner heelwat pryse ontvang. 

 

Sonna aan die woord (en werk). 

 

 

 

12 dames het met naaldwerkmasjiene, laslappies, skêre en dies meer opgedaag, en gretig meegedoen om 'n dollaslap-skinkbordlappie te maak.  


 

 

Susan Vermaak (met 'n amper voltooide dollaslap skinkbordlappie), haar dogter Adéle,  wat 'n wakende oog hou. Adéle het ook meegedoen en 'n hele sak materiaal saamgebring. Heillie Marais, voorsitter van Hofmeyr, sit en konsentreer, terwyl Sylvia Buys kliphard aan die werk is om betyds haar artikel onder die masjiennaald in te kry. 


Comments are closed