Onder leiding van Mev Sannie Laing het ons ‘n leersame vergadering in April gehad. Sanel van Eeden en Nicolene du Plessies het vir ons alles kom vertel van Home Base Care.
Die projek behels dat ‘n hele aantal tuisversorgers daagliks uitgaan na wonings toe om die swak pasiënte tuis te gaan versorg. Hulle gee ook elkeen se medikasie – wat natuurlik ‘n lang gewag by die kliniek uitskakel. Verder sien hulle ook toe dat die persone wat in nood verkeer gehelp word en deel kospakkies, komberse, klerasie, ens aan elke behoeftige uit.
Daar was fondse van ‘n oorsese land om dit te begin, maar die befondsing is egter intussen gestaak en hulle moet nou self die mas opkom. Die hartseer is dat een van hierdie tuisversorgers haar werk gaan verloor, omdat daar nie genoegsame fondse vir haar salaris beskikbaar is nie. Dit was ‘n baie moeilike keuse, want elkeen van hierdie tuisversorgers is baie toegewyd aan hul werk en moet in moeilike omstandighede hul taak verrig.
‘n Pragtige Rooibostee uitstalling is gehou, wat ook vir elke portefeulje punte besorg het. Die kompetisies was onder andere ‘n rooibostee marmalade brood, rooibostee tamatie uitjies, rooibostee koek, asook rooibostee appelkooslekkers. ’n Poprok, gebreide boekmerk en ‘n gehekelde armband was ook deel van die kompetisie en rangskikkings “met ‘n kruis” het die verbeelding aangegryp, so ook die stillewe potloodsketse.
Kaartjies is uitgedeel vir ons fondsinsameling, ‘n snoekbraai wegneemete op 28 Mei 2010.

Sanel van Eeden & Nicolene du Plessis oor Home Base Care.

Rankskikking met 'n kruis deur Minette du Toit.
Citrusdallers het ‘n lekker mengelmoes vergadering gehad op 13 Mei 2010.
’n Item is deur Charné Carstens gelewer waarmee sy by ons Eistedford ‘n baie goeie plek behaal het. Sy is ‘n plaaslike leerling en baie goed in toneelspeel, voordrag, ens. Sy het ons vermaak met ‘n stuk “Pa, my siel”.
‘n Pragtige roosboom is uitgeloot en Mev Ester Olivier moet plek maak in haar tuin vir die boom. ‘n Uitstalling deur Kunste en Handvlyt is oor die skilder Portchie se werke gehou. ‘n Afdruk van een van sy skilderye, ‘n skinkbord, ‘n muurbehangsel en ‘n groetekaartjie is ten toon gestel. Sy CV was ook beskikbaar vir die wat meer oor hom te wete wou kom.
Daar was ook ‘n Vader Clarehout afdruk en inligting oor die Clanwilliam Kunshuis. Marlene Dirkse van Schalkwyk het haarself as André Rieu vermom en Marianne van der Merwe het met haar ‘n onderhoud gevoer. Hierdie twee dames het dan ook sy konsert in Kaapstad bygewoon en vertel aan ons dat dit ‘n belewenis was. ‘n Musiek dvd van André Rieu is vertoon en ons almal het hierdie pragtige musiek geniet.
Joan Mouton het ‘n praatjie oor Argentinië gelewer. Dit was baie interessant om te hoor hoe daardie mense lewe. Marianne van der Merwe het vir ons vertel van haar 3 weke vakansie in Australië, onder andere hoe baie kangaroos daar doodgery word en hoe die baba kangaroos dan eers in pleegsorg geplaas word, voor hulle later weer in die natuur vrygelaat word.
Uitstallings oor Argentinë sowel as Australië is ten toon gestel. Die heerlikste sjokolade fudge was op die kompetisie lys asook pragtige rangskikkings “herfsvreugde” en huweliksuitnodiging kaartjie vir ‘n eie troue.
Mev. Mara van Niekerk het die vergadering afgesluit met die lees van die VLV gebed in Engels.

Portchie Uitstalling Kunste & Handvlyt.

Marianne van der Merwe en Marlene Dirkse Van Schalkwyk as André Rieu.