Posted on 27 June 2010

Woensdagaand 16 Junie het die Drie Riviere VLV Blommeklub, in samewerking met Hoërskool Douglas 'n Blomteater aangebied ter stywing van die skool se fondse. Dit was een van die koudse aande in jare, maar ten spyte van die koue wat opgekruip het teen ons bene, het die blommekunstenaar en mode ontwerper, Schalk van Dyk van Bloemfontein, op die verhoog getoor met blomme en is van sy rokke deur plaaslike modelle vertoon.
 

Die tema van die aand was PASSIE. Die tema is deur verskillende ontwerpe uitgebeeld. Die eerste ontwerpe (Skepping) beeld God se Passie om te skep uit.  Voor die skepping was alles donker - en Schalk het eerstens 'n ontwerp op 'n model se skouer gedoen met die tema, Rapsody in black. Daarna is die skeppingsdae gerangskik.
 

Mari-Loui Nortje - Rapsody in Black, in 'n bruin barrok trourok. 

 

 

Die skepping van die voels en diere en seelewe was 'n baie gewilde ontwerp by die meeste gaste van die aand.

 

 

 

 

Na die voltooiing van die ontwerpe het die modelle rokke vertoon in wit en swart (lig en duister) oranje, groen en goud met die musiek Eva in die agtergrond. 
 

Schalk het sy passie vir sy ouerhuis uitgebeeld  in sy pa, wat baie lief was vir 'n groentetuin en die kleurvolle blomme beeld sy pa as 'n vrolike en liefdevolle mens uit.  Die massa-ontwerp beeld sy ma uit - wat vir hom liefde vir blomme en die skoonheid daarvan geleer het.  Hy het ook twee gedigte voorgelees wat hy geskryf het vir hulle.
 

Hier het die modelle rokke vertoon in kleure van pienk, pers, seegroen en blou. 
 

Passie word die beste geillustreer in die liefde tussen man en vrou.  Hier is die ontwerp 'n brug, en het Schalk aan die linkerkant die man se sterk en growwer natuur uitgebeeld en aan die regterkant die vrou.  Die ontwerp is ondersteun met die musiek "Rhytm of love" en daarna het die modelle bloedrooi en maroen rokke vertoon.
   
 

Kerkvensters.  Ons moet almal streef om suiwer te leef. Ons moet 'n wit lig uit te straal in ons lewensreis elke dag.  Dit kan ook 'n verskil in ons gemeenskap en verhoudings meebring.  Na die voltooiing van die ontwerp het lede van die verskillende kerke, verenigings, organisasies en skole in die gemeenskap 'n kers opgesteek, as simboliek om 'n verskil/lig uit te straal daar waar ons betrokke is.  Hierna het die modelle wit en ivoor trourokke vertoon.

 

 

 

Om die aand as 'n dankbetuiging af te sluit, is 'n stomp op 'n model se skouers geplaas, en met een van die plaaslike sangers, Johan Nel, wat You raise me up, sing, is die rangskikking voltooi.
 

Na al die lekkerte van ontwerpe wat voltooi word, mooi musiek en die vertoon van pragtige rokke, is heerlik verder gekuier rondom sop, brood en heerlike truffels.  'n Luukse aand, met luukse kreatiwiteit.   
 

Modelle v.l.n.r Suzaan Germishuys, Megan Innis Grant, Mariolette Gerber, Marthie van der Westhuizen (organiseerder en voorsitster van Drie Riviere VLV Blommeklub) Marie-Loui Nortje, Schalk van Dyk (Blomkunstenaar en mode ontwerper), Mone Haarhoff, San-Mari Gous, Elzaan van den Heever en Maritza Gerber.  

 

 

Comments are closed