Posted on
08 July 2010
. . . . in Nieuwoudtville.
Mnr Koos Coetzee van Vanrhynsdorp doen raamwerk van skilderye, foto's, skoentjies, trourokke, dooprokke en vele meer. Daar is min dinge wat nie geraam kan word nie. Hy het raad gegee oor watter rame by watter tipe skildery sal pas, en verskillende tipes rame kom wys. Hy het ook vertel dat plattelandse ramers soms gebruik word om baie duur en gesogte skilderye te raam, juis omdat dit so veilig is, en niemand dit daar sou verwag nie.

Irma van Niekerk en Mandy Schumann het die dames gewys hoe die VLV se webblad lyk. Die dames het lekker gekyk na insette van ons en ander op die web. Omdat die GPRS konneksie-spoed van die G2 geweldig stadig was, kon ons sommer vir die vroue verduidelik van tipes konneksies en waarom sommiges stadiger of vinniger as ander is.

Ronelle het die dames genooi om 'iets oud van waarde' saam te bring, en die storie daaromtrent te kom vertel. Tannie Mollie van Wyk (80jr) het 'n baie spesiale en pragtige geraamde verjaardagkaartjie van haar ma gebring wat uit 1916 dateer. Colleen het 'n interessant-geraamde foto van haar oupa saamgebring; Barbara Conradie het 'n spesiale skinkbord se storie kom vertel; en Heléne Visagie het 'n outydse 'vet-bakkie' van tin uit die 1930's kom wys.

Die Kuns en Handvlyt vergadering in Junie is deur Ronelle Zirkel gelei.
