Posted on
15 July 2010
Ongeveer 45 vroue het die jaarlikse Sirkeldag van Noordoos-Kaap se VLV op Saterdag 12 Junie te Sterkstroom bygewoon. Nege van die tien dorpe was teenwoordig, en al was dit 'n koue dag, was die ontvangs en harte baie warm. En daar was soveel interessanthede op die agenda, dat niemand aan koud kry gedink het nie! Die Sirkeldag is daarop gemik om wenke oor die volgende jaar se kompetisies te gee en daar was regtig iets vir elke belangstelling! 2011 se tema is "Die Bruid" en alle kompetisie artikels hou daarmee verband.
Linie Gouws van Ugie en Hilda v/d Walt van Jamestown, Sirkel NOK se saamroepers van Leefstyl, het wenke gegee oor die vlg: Borduurwerk (middellap), Masjienwerk (korsetlyfie), Hekelwerk (handsakkie), Breiwerk (stool), Weefwerk (kanselkleed), en die Wisselafdeling (ringkussing en kousband). Die dames het ook geleer hoe om Engele ("Divinity") fudge, appeljellie, en wortel-vormkoekies te maak. Die fudge word nie in blokkies gesny soos die tradisionele tipe nie, maar in hopies aangebied. By die appeljellie is die pektien toets (waarvan die sap by brandspiritus gegooi word) weer baie belangrik.
Ander kompetisies sluit in 'n blomme ring, 'n geskrewe skets oor 'n katastrofe met 'n bruidsrok, en 'n foto vir 'n huweliksuitnodiging. Selma Veldsman van Lady Grey het wenke gegee vir 4 bladsye "Scrapbooking" vir die troualbum, en Lynette v/d Berg van Barkly-Oos wenke vir die kruis van natuurlike materiaal, wat 'n Landbou-kompetisie is.
Die dag is ingekleur met 'n item aangebied deur 5 kinders van Sterkstroom wat uitblink as leerlinge by Laerskool Hangklip op Queenstown. Hulle het elkeen 'n kort skets voorgedra oor verskillende onderwerpe wat die dames laat skater het. Die uiters leersame dag is afgesluit met 'n werkswinkel oor "Teabag Folding", aangebied deur Sirkelpresident Irma Davel van Molteno. Die "Teabag"-motiewe word dan gebruik om groetekaartjies te versier.
Berig deur Antionette van Pletzen