Posted on
22 July 2010
Saterdag, 17Julie, het die dames van Victoria-Wes die koue trotseer en ‘n Troetel-tee in die kerksaal bygewoon. Die tema was "Troetel jou vrouwees" en die oggend is begin met 'n praatjie oor hoe om jou vel teen die aanslae van die koue te troetel. Christa Bennet het die aanbieding gedoen.
Daarna het Kobie Jeppe drie blomdemonstrasies gedoen oor hoe mens vinnig, en uit jou tuin, jou vriendin kan verras. In die eerste demonstrasie is hoofsaaklik suurlemoene en loof gebruik. Die tweede ruikertjie het heelwat lavender ingehad en die laaste demonstrasie was 'n "handsakkie". Twee oases is op mekaar geplaas (soos bakstene) en met groot blare oorgetrek. 'n Handvatsel is gevleg van sagte draad en.of lote en as handvatsel bo-oor geplaas. Dan is astertjies en loof aan die bokant ingedruk en so is 'n lieflike geskenk vir iemand, voltooi.
Nadat die dames tee gedrink het, is Nelia Fourie aan die woord gestel. Sy het gesels oor hoe om jou vrouwees te koester/troetel. Aandag is aan elke letter van die woord KOESTER gegee.
K het gehandel oor die Kind in jou wat dalk jare terug seergekry het en hoe om dit te hanteer.
O het gehandel oor jou verhouding met jou OUERS en jou rol as ouer - dalk moet jy jou ouers oor iets vergewe of jou kinders om verskoning vra oor 'n fout wat jy gemaak het?
E staan vir EK: waar staan ek in my verhouding met die Here?
S is vir STER en skitter. As my verhouding met die Here reg is , is ek 'n ster wat skitter.
T beteken om TEVREDE te wees met die pad wat die Here met my stap/ tevrede om naby Hom te wees.
E staan vir "EK IS" soos wat die Woord na God verwys.
R verwys daarna dat Hy sy REGMATIGE plek in ons lewe moet inneem.
Dit was voorwaar 'n kosbare oggend en al die dames teenwoordig kon met genoeg pitkos huis toe gaan.