Posted on
27 July 2010
Tydens Murraysburg se Julie vergadering het Elsabé Louwrens die lede ‘n bietjie oor die leefstyl in Tanzanië ingelig.
Dit was vir hulle besonder verrykend om ander Afrika-mense te kon leer ken, omdat hulle oogkontak maak en vreemdelinge baie hartlik welkom laat voel. Goeie menseverhoudings is vir die mense van Tanzanië baie belangrik. Die openheid en warmte van die mense laat die besoeker nie net welkom nie, maar ook veilig voel!
Op die platteland woon die mense langs die strate, omdat dit vir die staat makliker is om daar dienste te verskaf. Die huise is meestal eenvoudig, maar die vroue trek besonder goed aan en hulle lang rokke en rompe is van die mooiste Afrika-materiale gemaak, terwyl die dogtertjies in pragtige partytjie rokkies uitgedos is.
Die Tanzaniërs is hardwerkend en steur hulle min aan vasgestelde werksure. Hulle begin baie vroeg soggens, aanvaar as vanselfsprekend dat werk deel van die mens se bestaan is en maak mooi meubels sommer daar langs die pad, waar dit ook verkoop word. Hulle meubels en planke word by hul werksplek en nie agter heinings en slotte geberg nie.
Alle benodigdhede word met waentjies of fietse vervoer. Die waentjies word nie deur diere nie, maar deur mense getrek en ‘n mens sien ‘n hele familie op een fiets of sakke houtskool agter op die drarak en/of stuurstang gebalanseer. Brandstof is baie duurder as in Suid-Afrika.
Vars produkte soos groente en vrugte is vrylik en billik langs die paaie te koop en van goeie gehalte. Selfs brood kan omtrent orals bekom word. Die plaaslike koffie is baie lekker en ‘n tipiese ontbyt bestaan uit speserytee en gesmeerde witbrood. Alles is baie goedkoper as in Suid-Afrika.
Die geselskap het hulle toegespits op die Christene van die Masai-stam in die omgewing van die Ngorongoro krater. André Louwrens het by twee geleenthede gepreek en is diep geraak deur die sang van tipiese Masai wysies, wat herskryf is om die liefde van Jesus te besing, en aangrypende oomblikke van intense liefde. Hulle het ervaar dat God in Afrika toegankliker is danksy die teenwoordigheid van ongeskonde ekologiese sisteme en die afwesigheid van menslike arrogansie.
Mette Kromhout