Posted on 29 July 2010

Dit was die vraag wat die VLV-lede van Kleinmond aan die Franse vrou, ikoon van stylvolheid, gevra het met hulle Naaldwerk-vergadering. Wat’s jou geheim Madame?

 

Toegelig met plakkate en uitstallings van serpe, handsakke en boeke oor Frankryk asook modelle wat vertoon het hoe sjiek ‘n wit hemp individualisties gebruik kan word met enige serp, het Annie Jooste en haar gasvroue die gehoor geboei met hul aanbieding.

 

Die vyf dinge waarsonder ‘n Franse vrou nie kan klaarkom nie, is ‘n serp, ‘n handsak, parfuum, ‘n wit bloese en mooi, goeie onderklere. Soos die Franse vrou moet ons stylvol en elegant wees. Dit kry ons reg deur klassieke klere te dra, maar ook af-en-toe ‘n bietjie waaghalsig te wees. Vergeet van ouderdom, wees lus vir die lewe, trek vir jouself aan en wees vol selfvertroue. Modeneigings kwyn, maar styl bly.

 

Ander bydraes is gelewer deur Mereille Nel wat die vergadering met die voorlees van Ps. 23 in Frans geopen het, Ninnie Burger wat oor parfuum gepraat het, Mariëtte Serdyn wat vertel het hoe laventelolie help vir slapeloosheid, blase, snye en muskiete, en Rita du Toit het die verskil tussen gekweekte, varswater- en nagemaakte pêrels en mabés verduidelik.

 

Alle egte pêrels vandag is gekweektes. Die in seewater gekweek is duurder omdat die oestertjie sterf nadat die pêrel uitgehaal is. Varswaterpêrels word in mossels gekweek en ‘n hele paar kan op ‘n slag daarin geplaas word. Die mossel kan ook weer gebruik word. Mabés is halwe bolvormpies wat in oesters geplaas word. Versorging: sit eers jou parfuum en haarsproei aan en dan jou pêrels en vee die stringetjie met ‘n skoon, klam lappie af na jy dit gedra het.

 

Pragtige sang deur Hannie van Wyk se groepie en uitstallings deur die Lieflappers en die Kloskantgilde het ‘n reeds heerlike vergadering verder opgehelder.

   

 

 

Fifi Krige en Annie Jooste(sameroeper vir Naaldwerk) by die uitstalling van serpe en handsakke.

 

Comments are closed