Posted on
02 August 2010
VLV Petrusville se Julie vergadering het die vorm van 'n "Doendag" aangeneem. Ons het reeds die oggend begin met al die doen-dinge.
Wilma Greyling van Orania het die dames kom leer hoe om teesakkievoukuns te doen en elke lid het die verskillende voue met hulle variasies geleer doen. Ons hoop dit gaan pragtige kaartjies tot gevolg hê, want die dames het dit baie geniet!
Daarna het Adri de Villiers (saamroeper Leefstyl) gewys hoe om laslapwerk vir beginners te doen. Sy is ook 'n ywerige kwilter en het die dames so geïnspireer om laslapwerk te doen dat hulle nog klasse gaan reël.
Ethel van der Walt (saamroeper Openbare Sake) het gereël dat die dames 'n praktiese lesing kry oor die gebruik van die internet met spesiale verwysing na Facebook. Dit is lewendig aangebied deur Surè Kruger. Sy het gewys wat Facebook is, hoe dit gebruik kan word en hoe om daarby aan te sluit.
Ten slotte het Annatjie Rademeyer (saamroeper Landbou en Tuinbou) gewys hoe mens jong kinders geïnteresseerd kan kry in tuinmaak. Sy het 'n kleutertuin gedemonstreer deur 'n houtkissie van planke te maak, met tuingrond te vul en dan allerhande klein plantjies en saadjies daarin te plant. Dit moet verkieslik saadjies wees wat gou ontkiem. So kan die kind dan sien hoe plante groei en ontwikkel en dit maak hulle baie opgewonde as hulle sien hoe plante groei as hulle dit mooi versorg. Johanna Bredenkamp het ook gepraat oor wat mens nou in jou tuin moet doen en hoe om roosbome te snoei.

