Posted on 04 August 2010

Selma Vorster  08-08-1933 - 19-06-2010


 
Griekwaland-wessirkel groet ons trots,  ons geliefde eresirkelpresident,  Selma Vorster.  Vir haar tak was sy die toonbeeld van 'n gerespekteerde en bekwame VLV-vrou wat die lewe vierkantig in die oê gekyk het en groot deernis vir haar medemens.


 
Selma is in 1933 in Karibib in Namibië gebore,  het aan Hoërskool Punt in Mosselbaai matrikuleer en aan die destydse Opleidingskollege Paarl haar as onderwyseres bekwaam.  Sy was toe reeds 'n sterk leier en was primaria van huis Lené Marais en ondervoorsitter van die 1953 Studenteraad.

  
 
As jong onderwyseres trek sy in 1955 na Griekwastad waar sy vir twintig jaar hoofsaaklik Naaldwerk by Hoërskool Griekwastad gee.  Gedurende dieselfde jaar  trou sy met Finis Vorster,  onderwyser aan dieselfde skool en uit die huwelik van 54 jaar word 3 seuns en 2 dogters gebore.


 
In 1956 sluit die jong Selma by die plaaslike tak van die VLV aan en bly 'n aktiewe lid tot haar heengaan.  Die sigbare werk wat sy verrig het sluit in bestuurslid en saamroeper vir Opvoeding en later ook Gesondheid.  Vanaf 1985 tot 1992 dien sy as vise-voorsitter en vir 10 jaar,  van 1992 tot 2002 lei sy ons tak as bekwame en geliefde voorsitter.  Op sirkelvlak lewer Selma ook 'n groot bydrae.  Vanaf 1980 tot 1985 dien sy as Sirkelpresident en op Hoofbestuur.  Haar werksverpligtinge en die behoeftes van haar gesin noop haar om eers dié amp te laat vaar en van 1985 dien sy as vise-sirkelpresident .  Na 'n groot motorongeluk wat haar man se gesondheid gedurende 2007 knak,  bedank Mev. Vorster uit haar bestuurspos op sirkelvlak om haar man voltyds te versorg.  By Konferensie 2007 te Niekerkshoop groet Griekwaland-wes ons mees gewaardeerde en ervare bestuurslid.


 
Die einde van Selma Vorster se sirkelverpligtinge beteken egter nie dat sy klaar is met VLV nie en sy woon steeds takvergaderings by tot op die einde van haar leeftyd.  Haar deelname aan veral die maandelikse "uit my tuin" afdeling sal altyd onthou word.  Dit is in die Vorstertuin wat die jaarlikse Tuinparty waarmee Griekwastadtak hul jaar afskop jaarliks gehou is.  Dit was in die Vorsterhuis waar talle takbestuurs- en sirkelbestuursvergaderings gehou is.  Dit is ook by die Vorsterhuis in Groenewaldstraat 5 waar jarelank konferensiepakkies afgegee is en dit is die Vorsterhuis se deure wat altyd vriendelik oopgestaan het vir VLV.


 
Buite die VLV was Selma en Finis Vorster ook betrokke in die gemeenskap. Selma het op talle gebiede haar gemeenskap en medemens gedien,  van die Vrouediens en kerkraad,  Hospitaalraad,  SAPD GOKOK,  en ACVV tot by die Tuinbouklub waarvan sy ook stigterslid was.


 
Selma Vorster laat 'n onbeskryflike leemte in die lewens van haar kinders,  familie en vriende,  maar veral in die Griekwaland-wessirkel. 

     
 
Dit wat Selma Vorster in haar 54 as lid van VLVK gedoen en bereik het is vir ons almal 'n voorbeeld van wat moontlik gedoen kan word.  Ons streef haar voorbeeld na.  Ons eer haar nalatenskap aan VLV.

 

Comments are closed