Posted on 22 August 2010

VLVK het verlede jaar besluit om 'n spesiale, nuwe portefeulje vir  Huis & Haard te ontwikkel.  Hiermee saam het die webwerf én Huis & Haard 'n splinternuwe, moderne blaadjie omgeslaan.  Deesdae kan ons werklik trots wees op hierdie wêreldgehalte handelsmerke, wat tred hou met nuwe tegnologie en tendense.

 

Ons lewe vandag in die eeu van die rekenaar,  asof dit die natuurlikste hulpmiddel ter wêreld is. Maar agter die ingewikkelde masjien wat jou in staat stel om hierdie woorde te lees, lê ’n lang en fassinerende geskiedenis.  Tydens die Huis & Haard-vergadering, het Janine Brynard die Hantam VLV-vroue teruggeneem tot by die ontstaan en ontwikkeling van dit wat ons vandag ken as die rekenaar, en daarmee saam ook die wonderlike wêreld van die internet.

 

Lank voordat wiskundige berekenings met knoppies gedruk kon word om op 'n skerm te verskyn, het die Grieke en Romeine klippies gebruik om te tel.  Oor die eeue heen is allerhande toestelle gebruik om berekeninge te doen, maar die wêreld se eerste volledig elektroniese rekenaar, wat met die Tweede Wêreldoorlog in die 1940's die lig gesien het, het meer as 167 m² volgestaan.  Die koms van die mikroprosesseerder het rekenaars soveel kleiner gemaak dat bekostigbare persoonlike rekenaars teen 1975 hul pad na klein ondernemings, skole en huise regoor die wêreld begin vind het.  Vandag loop mense letterlik met hul rekenaars in hul hempsakke. Voorwaar 'n wonderwerk as in ag geneem word dat hulle eens op 'n tyd 'n paar vertrekke vol gestaan het!

 

Die Internet is ’n wêreldwye stelsel van rekenaarnetwerke wat met mekaar verbind is en data uitruil.  Dis ’n netwerk van miljoene private en openbare, akademiese, regerings- en sakenetwerke wat verbind word deur glasvesel- en koperkabels, inbelverbindings, Wi-Fi, satteliet, 3G-selfone of kabellose verbindings.  Nadat die World-Wide-Web-projek in 1991 gepubliseer is, het dit 'n wêreldwye fenomeen geword met die karakter van 'n massamedium.  Dit is die mees gebruikte kommunikasiemiddel ooit, omdat miljoene mense vinnige, maklike toegang het tot 'n oneindige verskeidenheid aanlyn inligting, sosiale kletsnetwerke, professionele dienste en aanlyn aankope. 

 

'n Klompie sprekers het die verskillende internetdienste m.b.t. ons eie VLV tak kom bekendstel, waaronder Sunet Dodd - Internetverbindings; Karien van Schalkwyk - die VLV-webwerf; Margot Steenkamp - ons eie Facebook-profiel; Joey Rootman - Skype; James Basson - SARS E-filing; Bridget Scheffers - Internetbankdienste.  Die doel was nie om enigeen toe te gooi met 'n spul groot woorde en hogere inligting nie.  Slegs 'n breukdeel van die reuse WWW daar buite is beloer, en daar is nog miljuisende ander dinge wat ons kon bespreek.  Maar ons het elkeen goed besef, dat daar 'n legio moontlikhede is om te gaan ondersoek.  Die geheim is egter om nie bang te wees om te eksperimenteer nie.  Meestal klink dit moeiliker as wat dit werklik is, en dis gewoonlik so voor die hand liggend, dat mens maar net die instruksies noukeurig moet volg.  Verbeel jou maar net jy's op 'n internasionale lughawe iewers in Europa... as jy nie lees en oplet nie, sal jy verdwaal.  En as jy dan nou verdwaal, selfs al hét jy goed gelees, geniet dan maar net die reis!  Want 'n opwindende reis is dit gewis...


JCB

 

Comments are closed